Praat nadat jy gedink het
top of page

Praat nadat jy gedink het


Gebruik jou kop voordat jy jou mond gebruik. Dit klink na wyse raad. Wag, dit is nie net goeie raad nie - dis die waarheid. Praat sonder om te dink is pure dwaasheid. Die Spreukeboek sê oor en oor ons moet ons woorde in toom hou. Ons moet ons woorde se skerpheid stomp vyl.

Onnadenkende woorde is soos messteke. Dit vernietig verhoudings. Dit maak eindelose skade. Hierdie skade is soms onomkeerbaar groot. Ons almal trap in hierdie slaggat dat ons eers praat en daarna dink. Die regte oplossing vir ons oorhaastige tong is dat ons aan die begin van elke nuwe dag ook moet bid vir die woorde, wat ons daardie dag gaan kwyt raak. Ons moet bid dat ons woorde altyd in hemelse genade gedoop sal wees, wanneer dit ons monde vir altyd verlaat. Ons moet bid dat dit wyse woorde sal wees, wat ander mense hoop gee en wat hulle lewens opbou. Daar is meer as genoeg destruktiewe tonge in die omtrek en meer as genoeg afbrekende gesprekke. Ons skuld onsself dus ’n nuwe taal, ‘n taal van hoop. Nee, wag, dis ’n hemelse opdrag dat ons so moet praat. Ons woorde kan en moet nuwe vensters op God se goedheid oopmaak.

bottom of page