Nie regrukkers nie maar oorvertellers
top of page

Nie regrukkers nie maar oorvertellers


“Pa, jy preek my ore pap!” Jare gelede het my jongste een oggend na kerk dit kwytgeraak. Dit was nogal ’n waterskeidingopmerking. Toe ek na die tyd hieroor nadink, het ek besef dat ekself dit my voltydse besigheid gemaak het om ander mense uit te sorteer, reg te ruk, en te “fix.” Ek vermoed baie ander gelowiges doen dit ook. Ons is gedurig besig om vir ander te vertel wat fout in hulle lewe is. Of wat fout met Suid Afrika en met die res van die wêreld is. “Help dit ooit?” het ek toe by myself gewonder. Verander die wêreld regtig wanneer ekself en die res van ons sonde aanvat en alles en almal probeer regruk? Wel, ja-nee. Dit het seker ’n effense effek. Minstens laat dit regrukkers voel dat ons ons plig nagekom het om vir die Here op te staan. Maar ware en blywende verandering gebeur anders. Dit gebeur wanneer Christus self mense aanraak en oortuig van reg en verkeerd.


Ek het agtergekom die regte roete tot impak in die Here se diens is om te verander vanaf ’n professionele regrukker in ’n voltydse navolger van Jesus en tot ’n oorverteller van Sy verhale. Dis wat effektiewe getuies nog altyd gedoen het en steeds doen. Ons leef die Bybel na en ons vertel dit graag oor. Ons laat toe dat die Bybel afdruk op ons eie lewe en ons leef hieruit. Ons maak die Bybel ons Lewensboek en nie net ons “go-to” of “gaan-na-Boek wanneer ons antwoorde soek, of wanneer ons ’n paar tekste benodig nie. Boek vir boek lees ons dit en oordink ons dit. Ons laat die Bybel uitlek oor ons harte, ons gedagtes, ons woorde en ons dade. Dan staan ons uit die pad sodat die Here mense met Sy genade kan skoonboul. God verander mense vandag steeds op Sy eie maniere.

bottom of page