Piesangs maak soms die verskil
top of page

Piesangs maak soms die verskil


Lees Matteus 10:42


Chris Seay, ‘n Amerikaanse leraarsvriend van my sit op ‘n keer in ‘n vliegtuig. Hy hoor hoe ‘n man agter hom vir die lugwaardin vra of hulle ‘n piesang vir sy kind het, maar hulle kon hom nie help nie. Chris het egter ‘n piesang in sy handbagasie gehad. Dadelik het hy toe sy piesang aan die onbekende gesin agter hom weggegee. Die pa kon dit nie glo nie. Hy het oor en oor vir hom dankie gesê. Later vind hy uit my vriend is ‘n leraar. Toe was hy eers in ekstase en vertel vir almal rondom hom van die geestelike wat sy piesang weggegee het. Toe Chris vra hoekom hierdie stukkie inligting vir die man so belangrik is, antwoord hy: “My pa was ook ‘n leraar en hy het nooit enigiets met my of met ander gedeel nie.” Maar toe verander een piesang op ‘n vliegtuig alles. Daardie man se lewe het daar en dan oor een klein weldaad omgedraai.


Leer asseblief by my oorsese leraarsvriend om dieselfde te doen. Nee, laat die Gees self jou onderrig, want ek weet dat nie eens ‘n klein bekertjie water, wat deur sy toedoen uitgedeel word, ooit tevergeefs is nie. Laat Hy elke klein dingetjie, wat jy doen, tot sy eer gebruik. Moenie enigiets, wat jy vir iemand anders in Jesus se Naam kan doen, ooit as te gering beskou nie. Gaan doen dit net.


Gebed:

Gee, Here Jesus, dat ek ook in klein dingetjies vir U sal skitter. Amen.

bottom of page