Pasop vir sukses!
top of page

Pasop vir sukses!


In sy nuutste Leier nuusbrief skryf Roedolf Botha oor die gevaar van sukses.
Pasop vir sukses!

Een van die mees toonaangewende besigheidsnavorsers vandag – Jim Collins – wys uit hoe gevaarlik sukses vir ‘n maatskappy of vir die leiers van ‘n maatskappy kan wees. Die vraag, wat hy wou beantwoord in sy boek How The Mighty Fall, is hoe dit gebeur dat sterk maatskappye, wat goed vaar en oor baie potensiaal beskik, uiteindelik veld verloor in die mark en uiteindelik sóskipbreuk ly dat hulle geheel en al kwyn en tot niet gaan. Die eerste en belangrikste rede, wat hy ontdek het, is wat hy noem the debris of success – die “rommel”, wat deur sukses agtergelaat word.


Wat hy bedoel, is natuurlik nie dat sukses sleg is nie. Inteendeel, ons moet sukses najaag, anders laat ons talle mense uiteindelik werkloos, wanneer die maatskappy nie die pyp rook nie. Enige goeie saak het egter ‘n donker kant. Die donker kant van sukses is dat dit mens blind maak vir die harde realiteite, wat ‘n leier dikwels moet in ag neem om effektief te lei. Wanneer jy suksesvol is, is die versoeking veel groter om te luister en te fokus op al die erkenning en lof wat jou toegeswaai word, eerder as die nodige eerlike introspeksie, wat die maatskappy op ‘n gesonde pad sal hou.


Sukses kan ons ook arrogant maak. Dit kan veroorsaak dat ons ons nederigheid verloor en voel ons het mos nou die antwoord. Ons weet mos nou hoe om suksesvol te wees. Wanneer dit die trant van denke word, jaag baie leiers, gemeentes en maatskappye soms blindelings in die nuutste volgende geleentheid in, sonder om diep te dink of hard genoeg te bid. Wanneer ‘n leier dus sopas suksesvol was, is sy leierskap op sy kwesbaarste.


Goeie leiers besef dit.


Hoogmoed is ‘n glibberige sonde, omdat dit op jou afsluip sonder dat jy dit besef. Goeie leiers weet egter darem ook dat ‘n mens nie altyd die slagoffer van sukses en hoogmoed hoef te wees nie, maar dat daar ‘n paar voorsorgmaatreëls is, wat ‘n mens kan tref om die slaggate te vermy. Ek noem graag ‘n paar:


1. Luister eerlik en diep na ál jou mense.


Moenie net luister na die mense naaste aan jou nie. Hulle dink alreeds heel moontlik te veel soos jy. Baie keer is dit eerder gewone mense op die vloer, wat beskik oor die deurslaggewende sleutel tot leierskap, waarna jy soek. Soms kan hulle jou op ‘n belangrike behoefte van die maatskappy wys, wat jy en jou medebestuurders miskyk. Dit is dus belangrik dat leiers sal meng en luister na almal, ook die persoon wat die koffie aandra en die vloere skoonmaak.


2. Luister na jou vyande / opponente.


Dis die moeilikste om na vyande te luister, omdat die vertroue so laag is of omdat mense deur hulle vyande geïntimideer voel. Ander kere is mense al in die verlede so seergemaak dat hulle liewer vyandige of opponerende stemme vermy. ‘n Vyand of opponent het egter soms die waarheid beet, wat jy móét hoor, maar juis nie na wil luister nie. Dis dalk waarom julle opponente is. Opponente sien soms blinde kolle by ons raak, waarvoor onsself blind is.


3. Doen soms dinge, wat ander sou dink benede jou is.


‘n Mens word nie nederig deur vir jouself te vertel hoe nederig jy veronderstel is om te wees nie. Jy word nederig, wanneer jy nederige dinge doen. Soms moet ons – al is dit nie ons werk nie – die persoon, wat skoonmaak, help om die skottelgoed te was. Doen dit wanneer niemand anders dit sien nie en moet vir niemand anders vertel nie.


4. Wanneer jy praat van suksesse, praat van ander s’n.


Leiers praat baie. Dis deel van ons werk. Die praat laat ons egter maklik voel of voorkom asof ons al die antwoorde het. Daarom is dit belangrik om, wanneer jy van suksesse praat, van ander s’n te praat en wanneer jy van foute praat, van jou eie te praat.


5. Bid en lees Bybel.


Bid gereeld dat die Here jou van hoogmoed en die rommel, wat sukses bring, sal bewaar . Lees teksgedeeltes, wat jou op jou tone hou in verband met hoogmoed en die gevare van mag.


Goeie leiers is leiers, wat weet hoe kwesbaar hulle is, ten spyte van hulle beeld van sukses. Jesus-leiers onthou hulle eie sterflikheid en vergeet nooit dat hulle in die eerste plek nie leiers is nie, maar volgelinge van die Ware Leier.

bottom of page