top of page
deur Coen Slabber

Leier Nuusbrief April 2021 deel 2


In hierdie Leier Nuusbrief skryf Coen Slabber oor leierskapslesse wat geleer kan word uit 'n pandemie; ons persepsie van die werklikheid en die veranderde kerk.
Leier Nuusbrief April 2021 Deel 2

Leierskapslesse geleer uit ‘n pandemie

Ons ken die speletjie van toutrek. Daar is duidelike wenners en verloorders. Toutrek is nie die manier om sake tydens ‘n globale pandemie te hanteer nie. Tog lyk dit asof ons land en die wêreld in ‘n globale toutrekkompetisie is. Kerkleiers word in verskillende rigtings getrek as gevolg van verskillende sienings oor waar ons tans in die pandemie is en hoe om daarop te reageer.


Ons kry in die meeste gemeentes vier kategorieë met vier sienings van gemeentes.


1. Diegene wat glo dat ons nou moet terugkeer.


Hulle glo dat burgerregte deur protokolle om die virus te bekamp ondermyn word. Hulle glo die dra van maskers is nadelig vir hulle longe. Hulle wil onmiddellik teruggaan na normaal. Hulle glo kerkleiers is te bang om vir die regte van kerke op te staan en daarom allerhande kompromieë aangaan. Hierdie benadering sal langtermyn gevolge vir die kerk hê.


2. ‘n Ander groep sê: Dit is waarskynlik goed vir ons om terug te gaan.


Hulle sien nie dat om na eredienste in ‘n gebou terug te keer, ‘n saak van godsdiensvryheid is nie. Hulle het nie veel probleme nie, maar hulle verlang na die vergaderings van die gemeente.


3. ‘n Groep sê: “Ek is nie teen terugkeer nie, maar ek sal nie nou eredienste bywoon nie. Ek wil eers sien hoe die gemeente dit hanteer.”


Hierdie groep sluit ou mense met onderliggende risikofaktore in. Hulle wil terugkom, maar is nog huiwerig.


4. Hierdie groep voel dit is verkeerd om nou met eredienste te begin.


Hulle glo diegene wat weer eredienste wil hê, is onsensitief teenoor diegene met onderliggende risikofaktore. Hulle glo dit sal ‘n slegte getuienis teenoor die gemeenskap wees, want dit stel mense in gevaar.


Hierdie is ‘n toutrekkery. As daar ooit ‘n tyd vir leierskap was is dit nou.


Wat moet ons doen?


1. Erken die spanning


As jy met die gemeente kommunikeer, moet jy die spanning tussen die verskillende groepe erken. Spanning is nie noodwendig altyd ‘n slegte ding nie. Te min spanning lei tot laksheid. Te veel spanning lei tot angs. Ons moet die spanning erken sonder dat dit ons verhoudings nadelig beïnvloed.


Sê vir die gemeente dit is geen probleem as lidmate oor sekondêre sake verskil nie. Herinner hulle aan die dinge wat ons saambind: ons gemeenskaplike geloof, ons hoop in Christus en ons oortuiging van die waarheid van die Skrif. Hierdie sake is belangriker as ons sienings oor die pandemie.


2. Gee duidelikheid in onseker tye


Jy mag nie noodwendig tot dieselfde gevolgtrekkings kom nie, maar jy kan en moet duidelik praat. Ons weet nie wat om te verwag en wanneer die pandemie eindig nie. ‘n Sleutelles uit die pandemie is dat leiers besluit en duidelik met die gemeente moet kommunikeer. Dit sluit in:

• Neem ‘n wyse besluit as span. Oorweeg al die beskikbare feite.

• Oorkommunikeer daardie besluit duidelik.

• Lei die gemeente deur daardie besluit. Herinner hulle daaraan dat dinge gedurig verander. Hulle moet betrokke bly.


3. Lei in ‘n tyd van verdeeldheid.


Enige besluit wat jy nou neem, beteken dat iemand vir jou kwaad sal wees. Jy kan nie almal tevrede stel nie, maar jy moet niemand van die besprekings uitsluit nie. Hierdie is ‘n krisis. Daar was al vantevore krisisse in die kerk. Baie leiers se leierskap sal sterker uit die krisis kom.

Hierdie is ‘n tyd vir wysheid en nie paniek nie, vir duidelikheid en nie verwarring nie en vir durf vir die evangelie.


Memoriseer die Skrif


Is dit belangrik om die Skrif te memoriseer? Die meeste Christene se te-doen-lysie bestaan uit drie ononderhandelbare dissiplines: Bybellees, gebed en memoriseer van die Skrif. Kom na My toe, almal wat vermoeid en swaar belas is en Ek sal julle rus gee. (Matteus 12:28) Ons kry ware rus net in Jesus en ‘n mens ontmoet Jesus as jy die Skrif memoriseer.


Die Bybel skryf nie vir ons ‘n metode voor oor hoe om die Skrif te memoriseer nie. Die Bybel moedig ons net aan om dit te doen: In my hart koester ek U woord, sodat ek nie teen U sondig nie. (Psalm 119:11) (Daar is ‘n toepassing op jou selfoon, wat jou hiermee kan help – Bible Memory app. As jy tydens jou Bybellees ‘n vers kry, wat uitstaan, voeg jy dit by op jou toepassing en hersien die vers ‘n paar maal daardie week. As jy die vers elke keer korrek kry, word die vers in ‘n weeklikse rotasie geplaas. Later is die rotasie elke maand en nog later elke twee maande.) Omdat die toepassing op jou selfoon is, kan jy dit enige tyd van die dag gebruik, enige oop tydjie wat jy het.

Moenie die Skrif aanhaal net met die doel om dit aan te haal nie. Mense moenie wegloop en dink dat jy waarlik die Skrif ken nie. Hulle moet van jou af wegloop en aan Jesus dink. Jy moet net die Skrif op só ‘n manier aanhaal dat mense wegloop, beïndruk met Jesus. Memorisering van die Skrif kan jou bediening help, onder andere in pastorale gesprekke en gebede. Dit beïnvloed hoe ek met ander praat, dink en optree. Memorisering van die Skrif moet my meer soos Jesus laat lyk. Daar is geen nodigheid om ‘n lang Skrifgedeelte voor ‘n groot groep mense aan te haal, tensy jy deur die Heilige Gees daarvan oortuig is nie.


Al het ek nie ‘n openbare platform om my vermoëns ten toon te stel nie, weet ek dat tyd gespandeer om God se Woord te memoriseer, nie tevergeefs sal wees nie: Net so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie vrugteloos na my terugkeer nie, maar doen wat Ek wil hê en die doel bereik waarvoor Ek dit gestuur het. (Jesaja 55:11)


Ons persepsie van die werklikheid


Die grootste vrae van die lewe word eers duidelik verstaan na die vraag van God se bestaan in sy regte konteks geplaas is. Elkeen van ons het ‘n perspektief oor hoe hierdie wêreld werk. Dit is die lens, waardeur ons die lewe sien. Die meeste mense verwys hierna as ons wêreldbeeld. Terwyl ons ouer word, formuleer ons ‘n filosofie van die lewe. Hierdie wêreldbeeld beïnvloed hoe ons onsself, ons verhouding met ander en hoe ons, ons lewe leef, sien. Ons wêreldbeeld beïnvloed ons persoonlike, sosiale en politieke lewe. Dit help ons om ons doel in die lewe te verstaan. Ons wêreldbeeld bepaal ons etiek en waardes en help ons om die groot lewensvrae te beantwoord, soos:


• Hoe het ek hier gekom?

• Hoe moet ek lewe?

• Waar kry ek betekenis in my lewe?

• Wat is my eindbestemming?


Ons kom nou by ‘n kruispad:


(a) ‘n Sekulêre wêreldsiening: ons leef in ‘n goddelose wêreld. Ons is die produk van die natuur, wat oor eeue ontwikkel het. Hierdie siening beklemtoon die wetenskap. Die leuse is: Wat het die wetenskap en die natuur te sê?


(b) Die geestelike wêreldsiening: Daar is ‘n bonatuurlike Intelligensie wat die natuur orden en gebaseer is op die openbarings, wat ons in die Bybel kry. Die leuse is: Wat sê God hiervan?


Elke mens het ‘n mening oor God. Dit beïnvloed die keuses wat ons maak. Ons wêreldsiening sal uiteindelik die oorsprong van die lewe, wat die lewe beteken en wat ons veronderstel is om te doen, bepaal.


Die veranderde kerk


Verandering is gesond. Verandering is nodig. Nie alle veranderinge is goed nie. Dit is ‘n nuwe tyd vir die kerk - nie noodwendig ‘n maklike tyd nie, maar wel ‘n tyd vol moontlikhede en geleenthede..


Mense is toenemend honger na geestelike waarhede, na ‘n sinvolle lewe en ‘n lewe van vrede sonder bekommernis of vrees. Die kerk kan hierdie waarheid en lewe in Christus voorsien.


Die omgewing verander, die kerk pas aan, maar ons kernboodskap bly dieselfde. Ons veantwoordelikheid is om te leer om by hierdie nuwe werklikheid aan te pas. Kom ons kyk na ‘n paar van hierdie nuwe werklikhede:


1. Grootte en krag is nie noodwendig sinoniem nie.


2020 het ons geleer dat waar ons bywoning by eredienste akkuraat kon voorspel het, ons tans geen idee het wie en hoeveel mense steeds deel van die gemeente is nie. Die goeie nuus is dat ons, ons bes doen om mense te bereik, te dien en om weer te bou. Die grootte van die gemeente is nie langer ‘n akkurate teken van krag nie. Tydens die pandemie was skares nie meer ‘n maatstaf van sukses nie. ‘n Gemeente van enige grootte kan ‘n betekenisvolle impak hê, as dit na buite fokus en verlang om ‘n verskil in die gemeenskap te maak. Gemeentes wat na binne fokus, gaan sukkel. Ons het gemeentes van alle groottes nodig.


Gemeentes wil meer mense bereik, maar tans is geestelike diepte en ewige impak ‘n groter fokus. Oor die lang termyn sal dit die gemeentes sterker maak.


2. Die boodskap wat jy wil oordra, is nie noodwendig die boodskap wat gehoor word nie.


Kommunikasie, wat nie sy doel bereik nie, is ‘n algemene frustrasie. Leiers het toegewyd en sorgvuldig en in gebed nagedink oor wat gekommunikeer moet word, maar dit het nie altyd oorgekom soos wat gehoop is nie. Een of ander groep in die gemeente neem aanstoot. Sosiale media is ‘n ander platform, wat noulettendheid vereis. Ten spyte daarvan word dit steeds soms misverstaan.


Om veelvuldige agendas te hanteer, is ingewikkeld en enige poging om almal tevrede te stel, is gedoem tot mislukking. Wat kan ons hieraan doen?


• Kommunikasie werk in spanne.

• Bou spanne om jou kommunikasie te toets. Sluit mense in, wat van jou verskil. Die vraag waarmee hulle moet help is: “As ek dit sê, wat hoor jy?” die doel is nie om jou boodskap te verander nie, maar om seker te maak hulle hoor wat jy sê.

• Alles wat jy sê moet gebaseer word op jou waardes en oortuigings - moenie dat druk bepaal wat jy sê nie. As jy dan op iemand se tone trap, herinner jouself dat jy getrou is aan jouself, jou gemeente en jou oortuigings.


3. Luister na die klagtes, maar moenie deur die aanvalle verteer word nie. Jy kan gewoonlik uit klagtes en kritiek leer. Daarom moet jy daarna luister. As dit ‘n persoonlike aanval deur ‘n onredelike persoon is, stap weg.


4. Die gemeente mag dieselfde lyk, maar dit voel anders.


Die eredienste sal waarskynlik wees soos voor die pandemie, maar dit sal nie dieselfde voel nie. Hoekom? Want ons het almal verander. Die virus het ‘n mate van wantroue en onsekerheid veroorsaak. Maskers het ‘n graad van gesiglose intimiteit veroorsaak. Die pandemie het ons geliefdes geneem. So kan ons die lys verder uitbrei.


Maar uit die pandemie het ook sekere goeie dinge gekom. Ons het geleer om aan te pas en te innoveer. Ons het geleer dat daar oplossings en ook hoop is. Tog sal die gemeente nie dieselfde voel nie, want die mense is anders.


As ‘n leier vereis dit van jou groter onderskeidingsvermoë. Jy sal ook meer doelgerig moet luister en vasstel wat veroorsaak dat mense vashaak en wat die sneller vir verandering is. Miljoene mense is nie meer in die gewoonte om eredienste by te woon nie. As hulle terugkeer, sal hulle dit anders ondervind. Wees gereed daarvoor. Die groot vraag is: Vir wie gaan jy voorsiening maak: diegene wat terugkeer of die kerklos mense?


5. Karakter is belangriker as bekwaamheid


Bekwaamheid sal altyd belangrik wees. Niemand wil deel van ‘n gemeente, wat swak gelei word, wees nie. Karakter was nog altyd belangrik, maar nou is dit die eerste vereiste. Daar sal genade wees vir eerlike foute, menslikheid en nederige leiers. As dit by karakter kom, is daar geen plek vir vertroue, wat misplaas is nie. Terwyl jy jou vaardighede as leier verbeter, moet jy ook aandag gee aan die ontwikkeling van jou karakter. Dit beteken nie noodwendig dat daar fout met jou karakter is nie, maar almal kan onder druk knak. Selfs onder druk bly God se standaarde die norm. Om jou karakter te beoordeel, het jy ‘n eerlike vriend of mentor nodig. Hier is die uitdagende vraag: is jy dieselfde persoon in die donker as in die skerp lig.


Comments


bottom of page