Soms moet ‘n mens eenvoudig aangaan
top of page

Soms moet ‘n mens eenvoudig aangaan


Roedolf Botha skryf in sy nuutste My Wêreld nuusbrief oor hoe ons soms net eenvoudig moet aangaan
Soms moet ‘n mens eenvoudig aangaan

Soms word gevoelens te hoog geag. Ek sien onlangs hoe dat die bekende Kanadese sangeres, Celine Dion, vertel hoe sy geleer het hoe om haar gevoelens te hanteer. Sy vertel hoe dat ‘n mens soms net nie die lus het of die nodige energie voel om te doen wat nodig is nie. Die persoon wat in gesprek was met haar, het haar gevra hoe sy dit regkry om soms te sing, al voel sy nie lus nie. Haar antwoord was dat ‘n mens nie altyd lus voel nie, maar dat jy eenvoudig die regte ding moet dóén, ongeag jou gevoelens. Selfs in die wrede aangesig van haar man, René Angélil se dood, was hierdie beginsel deurslaggewend. Sy deel hoe dat sy na René se afsterwe vir maande lank onttrek het en glad nie in die openbaar opgetree het nie. Sy het net nie die moed gehad nie.


Tog het ‘n brief van ‘n akteursvriend van haar, haar gemotiveer om weer ‘n nuwe lied op te neem en ‘n volgende album die lig te laat sien. Hierdie aksie het weer nuwe lewe in haar geblaas en haar nuwe visie gegee.


Ek onthou hoedat ek een keer die sang moes lei in die gemeente, waar ek werksaam was. Die uitdaging was egter dat ek in daardie tyd deur een van die moeilikste fases van my ganse lewe gegaan het. Ek het daardie dag, voor ek moes optree, geensins gevoel het ek was up to it om lofliedere te sing in daardie seisoen van donkerte in my lewe nie. Ek bel toe ‘n vriend van my in die hoop dat hy simpatie met my sou hê. Alhoewel hy simpatie gehad het, het hy ook iets bygesê, wat ek soos gister onthou:


Roedolf, enige iemand sal verstaan as jy besluit om nie môre die sang te lei nie. Maar ware volwassenheid en krag beteken soms dat jy jou gevoelens tydelik opsy skuif en eenvoudig doen, wat reg en nodig is.


Ek het toe gesing. Vandag is ek bly. Bly vir sy tydige en wyse woorde.


Natuurlik kan ‘n mens nie jou gevoelens ignoreer en alles net onder die mat invee, asof dit nie bestaan nie. Ons moet tog eerlik en eg wees. Emosies is uiters waardevol, kan ons inspireer en ook soms aan ons openbaar, wat werklik binne-in ons woed.


Ek het egter ook besef dat ‘n mens eerder eg moet wees teenoor jou waardes, as jou gevoelens.


Gevoelens mag nooit as verskoning gebruik word om ons waardes te ignoreer nie. Vandag steek mense veels te dikwels hulle liefdesplig weg agter hoe hulle vóél. Liefdesdiens is nie in die eerste plek ‘n gevoel nie, maar eerder ‘n oriëntasie gevorm deur die Kruis.


Ek is seker Jesus het nie lus gevóél om aan die kruis te sterf nie. Tog het Hy gekies vir ‘n diep en egte, diensbare liefde, ten spyte van sy gevoelens.


Vandag is ons almal oneindig dankbaar dat Hy het.

bottom of page