Leier Nuusbrief April 2021 deel 1
top of page

Leier Nuusbrief April 2021 deel 1


In hierdie Leier Nuusbrief, skryf Coen Slabber oor waneer eredienste kan hervat; tydsbestuur, en hoe om sterk te lei in 2021.
Leier Nuusbrief April 2021 Deel 1

Wanneer sal eredienste kan hervat?


Ed Stetzer het onlangs met dr. Francis Collins, die direkteur van die National Institutes of Health, ‘n onderhoud oor hierdie onderwerp gevoer.

Dr Collins sê die pandemie is nou erger as vantevore. Die ligpunt is natuurlik die ontwikkeling van ‘n entstof. Hierdie entstowwe is versigtig beoordeel. Hulle is veilig en doeltreffend. Deur soveel as moontlik mense in te ent, kan ons die pandemie beheer. Hy besef dat mense gemengde gevoelens oor die entstof het, maar as wetenskaplike voel hy dat God hierdie vaardighede aan ons gegee het om te verstaan hoe hierdie dinge werk. Ons kon die virus identifiseer en vinnig ‘n entstof wat 95% doeltreffend is, ontwikkel. Hy glo dat die entstof ‘n gawe van God is en dat ons, ons vooroordele moet los.

Om soveel mense te immuniseer, is nie iets wat binne ‘n paar maande gedoen kan word nie. Sodra 80 - 85% van die bevolking immuun is, sal die virus begin wegkwyn, want daar is nie genoeg mense om te infekteer nie. Almal van ons sal ons deel moet doen om daar te kom.

Hy is bekommerd dat sommige gelowiges huiwerig is om hierdie gawe te aanvaar. As net die helfte van die bevolking die vaksine kry, sal die pandemie nog lank met ons wees.

Collins gee toe dat die vaksine baie vinnig ontwikkel is. Dit is deels as gevolg van nuwe tegnologieë, wat oor die laaste twee dekades ontwikkel is. Die wetenskap was egter streng in terme van die produksie van vaksines. 30 000 mense was betrokke by die toetse en daar was baie min newe-effekte. Die data is daar. Ignoreer die samesweringsteorieë en kyk na die bewyse.

Die probleem is dat mense sonder enige simptome die virus kan dra en versprei. Inenting verminder hierdie risiko. Ons is almal deel van ‘n gemeenskap en almal van ons moet saamwerk om kudde-immuniteit te kry. Dit is ‘n morele verantwoordelikheid.

Die toekoms sal bepaal word deur hoeveel mense die vaksine ontvang het. Hy glo dat die VSA teen September in ‘n goeie posisie sal wees. Hy glo nie dat eredienste teen Julie weer moontlik sal wees nie. As 30 – 40% van die bevolking die vaksine weier, sal ons nooit daar kom nie.

Collins sê dit is nie die eerste pandemie, wat die wêreld moes hanteer nie. Christene kon nog altyd bepaal hoe hulle kan help. Ons help nie as ons weier om die vaksine te aanvaar en voortgaan om die virus te versprei nie. Een van die maniere waardeur ons evangeliseer, is deur ons optrede. Is ons positiewe openbare getuies? Is ons ‘n groep mense, waarvan ander ook ‘n deel wil wees? Help ons ons bure? Reik ons uit na die armes? Luister ons virtueel?


Tydsbestuur


As dit by tydsbestuur kom, voel die meeste mense maar of dinge buite beheer is. Hoekom gebeur dit? Ons sien nie die groter prentjie, waarvan tydbestuur maar net ‘n deeltjie is nie. As ons dink aan tydsbestuur, sien ons ‘n te-doen-lysie. Die probleem is dat nie alles, wat ons dink gedoen moet word, hoef gedoen te word nie. Sekere dinge moet eerder ongedoen gelaat word.

Ons dink aan tyd op ‘n logiese manier. Ons sien elke uur as van dieselfde waarde in vergelyking met al die ander. Daar is verskeie dimensies in ons pogings om tyd goed te spandeer. Ons moet almal goed bestuur.


1. Tydsbestuur het ‘n logiese komponent.

Ons moet al die komponente verstaan, as ons beter wil voel oor hoe ons, ons tyd bestuur. Hierdie is ‘n bietjie wiskundig. Ons het 168 uur per week, waarvan ons ongeveer 50 uur slaap. Die oorblywende ongeveer 115 uur moet verdeel word tussen verskillende prioriteite soos familie, werk, verhoudings, rus, ens. Hierdie deel van tydbestuur is aan almal van ons bekend. Om dit te doen het jy ‘n kalender, ‘n te-doen-lysie en basiese organisasie nodig.


2. Tydsbestuur het ‘n emosionele komponent.

Ons onderskat die belang van emosies in tydbestuur. Ek kan meer werk gedoen kry, as ek familietyd opoffer, maar dit sal my emosioneel dreineer. Elke nuwe taak wat ek aanvaar, gaan gepaard met ‘n mate van druk van iemand, wat die taak afgehandel wil hê. Die vraag is nie net hoeveel werk ek gedoen kan kry of hoeveel werk in my skedule kan inpas nie? Die vraag is hoeveel emosionele druk saam met elke geleentheid kom. As jy jou tyd beter wil bestuur, moet jy meer bewus van jou emosies wees.


3. Tydsbestuur het ‘n geestelike komponent vir Christene.

My verhouding met God word deur my tydsbestuur beïnvloed. In tradisionele tydsbestuur word die eerste uur van die dag aan die hoogste prioriteite bestee. Vir ‘n Christen is die eerste uur (of 30 minute) krities belangrik vir gebed, luister en neerskryf, wat God vir my hart sê. ‘n Christen wil sy tyd belê en nie net spandeer nie. Enigeen kan tyd spandeer, maar ek wil my tyd belê in dinge, wat vir God se koninkryk belangrik is.

Paulus skryf aan die Efesiërs: Koop die tyd uit, omdat die dae vol boosheid is. (5:16) Dit beteken hulle moet elke geleentheid optimaal gebruik, want hulle weet dat die tyd beperk is. Dit beteken nie dat ons teen ‘n onvolhoubare spoed moet werk nie. Dit beteken wel dat ons weet wat belangrik is en dat ons tyd in daardie dinge belê.


4. Tydsbestuur het ‘n verhoudingskomponent.

Die twee belangrikste dinge op aarde is die Woord van God en mense. Daarom moet ek baie energie en tyd aan verhoudings bestee. My verhouding met God vereis tyd vir gebed, Bybelstudie, skryf en luister. My verhouding met my geestelike familie vereis bywoning van die samekomste oor naweke en kleingroepe tydens die week. Ook belangrik is my verhouding met myself. Ek het tyd nodig vir introspeksie en persoonlike groei. Ek moet myself ken en verstaan.

Tydsbestuur is nie net wiskundig nie, maar ook emosioneel, geestelik en hou verband met my verhoudings. Ek moet my tyd belê en nie net spandeer nie. Uiteindelik is my tyd meer waardevol as my geld of my talente.


Lei sterk in 2021

‘N Nuwe jaar is altyd anders as die vorige jaar. God het die lewe met patrone en ritmes, seisoene en dae gemaak. Dit hang van ons af wat ons daarmee gaan doen. Aan die begin van die jaar gee ons aan onsself toestemming om vars te begin. Dit is gesond en kragtig. Ons mag dit nie vermors nie.

In 2020 het ons geleer, gegroei en verander. Ons moet die beste van 2020 in die nuwe jaar inneem. Ons moet leer uit 2020. Ons weet soveel meer as wat ons ‘n jaar gelede geweet het.

Ons weet byvoorbeeld dat die kerk beide aanlyn en in persoon doeltreffend kan wees. In 2021 moet ons leer om beide goed te doen. Wat ‘n ongelooflike geleentheid.

  • Die krisis het gelei tot nuwe denke en geleenthede – dit is goed.

  • Die krisis het innovering en verandering teweeg gebring – dit is baie goed.

  • Die krisis het alles wat roetine en gemaklik is, hard geslaan – dit is uitstekend.

Die pandemie is ‘n werklikheid en goeie leiers sal die beste daarvan maak.


Hoe kan ons in 2021 sterk lei?


1. Doen ‘n oudit van jou siel.


Jou geestelike stabiliteit en lewenskragtigheid sal die gehalte van jou bediening bepaal. Jou geestelike lewe was nog altyd ‘n betekenisvolle faktor in jou leierskap. ‘n Krisis ontbloot die grense van jou geestelike lewe. Daarom is aandag aan die gehalte van jou geestelike lewe nou meer betekenisvol as vantevore. Jy kan ‘n oudit van jou siel binne ‘n uur doen, want jy ken reeds die meeste van die antwoorde. Dit is die óplossings, wat tyd verg. Maak in 2022 tyd om aan jou geestelike lewe aandag te gee. Dit gaan oor persoonlike hernuwing.


Hier is ‘n paar moontlike vrae:

  • Ondervind jy innerlike vrede of innerlike angs? Hoekom?

  • Is jou gebedslewe vars? Ondervind jy God se nabyheid? Wat sê God vir jou? Hoe sal jy nader aan Hom kom?

  • Is jou primêre verhoudings gesond?

  • Is daar enige versoeking waarmee jy hulp nodig het? Wie kan my help?

Dit is altyd goed om saam met ‘n goeie vriend jou denkproses te verwerk.


2. Los 2020 se bagasie.


Die meeste van ons het nie aan ons verwagtings vir 2020 voldoen nie. Los alle bagasie, wat jou net sal aftrek. Jy moet vry wees om vorentoe te beweeg. In 2020 was dit ‘n probleem om persoonlik met mense te vergader. As jy vashaak by wat jy verloor het, of probeer om jou verliese te beperk, het jy probleme. Jy moet fokus op wat jy kan bóú. Wat was jou bagasie van 2020? Kan jy dit agterlaat?


3. Wees seker van jou wegspringplek.


Begin waar jy is en met wat jy het. Hou op om te tob oor waar jy dink jy behoort te wees. Aanvaar die werklikheid en bou verder. Jou geleenthede is meer as jou beperkings. Wees eerlik oor jou beperkings, maar fokus op jou geleenthede. Jy sal ‘n paar probleme in 2021 ondervind, maar jy is nou beter voorbereid om hulle te hanteer. Jy het ongelooflike ondervindings in 2020 gehad. Jy weet hoe sterk jou span en die gemeente is.


4. Strategie is die woord vir 2021.


Innovering, aanpassing en verandering was die woorde van 2020. Om vinnig te reageer en te hoop vir die beste was algemeen in 2020. Nou staan strategie sentraal. Jy weet hoe die speelveld lyk, so jy kan jou strategie vir 2021 bepaal. Leer van ander, maar moenie blindweg navolg nie. Jou waardes en interpretasie van wat tans gebeur in ons kultuur, gaan verskil van dié van ander. Dit sal jou strategie beïnvloed. Maak jou plan - maak dit eenvoudig en duidelik. Bou dit op jou visie en waardes. Beweeg vorentoe en moenie bang wees om ‘n fout te maak nie. As jy jou span in die proses vergeet, gaan jy ‘n paar verrassings kry.


5. Dink soos ‘n kerkplanter.


Vasberade, vol geloof. Hulle doen wat nodig is om te doen. Hulle sien dit nie as ‘n las nie, maar as ‘n voorreg. Wees gewillig om harder as ooit te werk. Verdeling, lyding en verwarring is algemeen. Die wêreld het die evangelie meer as ooit vantevore nodig.

bottom of page