Niks oor die evangelie is geskryf totdat ek dit nie met my eie lewe geskryf het nie
top of page

Niks oor die evangelie is geskryf totdat ek dit nie met my eie lewe geskryf het nie


Die film Lawrence of Arabia vertel die verhaal van die legendariese T. E. Lawrence (1888-1935). Een keer het hy Arabiese soldate deur die Nefud-woestyn gelei. ’n Soldaat het toe in die woestyn weggeraak. Lawrence is meegedeel dat die dood daardie man se voorland is. “It is written,” het die ander soldate gesê. Lawrence het nie saamgestem nie. Hy het na hierdie man gaan soek en hom gevind en teruggebring. Na die tyd sê een Arabiese leier toe oor Lawrence: “Truly, for some men nothing is written unless they write it.” 


Paulus was ook so iemand. Hy het die evangelie wêreldwyd gedeel. Paulus het meer as 16,000 kilometer te voet afgelê en kerke regoor die Romeinse Ryk tot stand gebring. Boonop het hy hierdie wêreldwye geloofsbeweging met briewe en besoeke aangevul. Dit het hom baie duur gekos, soos wat hyself in 2 Korintiërs 11:24-29 vertel. ’n Volle 195 merke op sy rug het getuig hoe die Jode hom vyf keer gegesel het. Drie keer het die Romeine hom ook stukkend geslaan. Dikwels was Paulus in gevare van rowers, vyande, en selfs van gelowiges, wat nie sy teologie kon uitstaan nie. Jarelange tronkstraf was ook sy voorland. Tussendeur was Paulus bewus van sy eie swakheid (2 Korintiërs 4:7; 12:9-10), maar Christus was sy lewe. Daarom het hy die evangelie ook geskryf en in sy eie lewe uitgeleef. Volg sy voorbeeld. Doen dit só dat ander sal sê niks is eintlik nog oor die evangelie geskryf totdat jy self dit nie met jou lewe geskryf het nie.

bottom of page