My geestelike nalatenskap
top of page

My geestelike nalatenskap


In hierdie artikel, vra Stephan Joubert wat ons geestelike nalatenskap is.
My geestelike nalatenskap

Watter geestelike erfporsie laat jy na aan almal, wat met jou te doen het? Teveel mense werk hulle morsdood om ‘n aardse erfporsie na te laat, wat slegs met materiële dinge te doen het. Wat laat ons egter na as navolgers van Jesus? Kyk net na die nalatenskap van Petrus en die ander apostels in Handelinge 5. Hulle lewens het getuig dat Christus die Here is. Dit het almal dadelik besiel.

Nou vir die goeie nuus: jou geestelike nalatenskap wag nie tot jy eendag sterf nie. Dit werk direk, daar waar elke dag nuwe vingerafdrukke agtergelaat word, wat vertel van God se grootheid. Of daar waar vars voetspore die pad vorentoe aandui na God se strome van lewende water.

Elke dag het die apostels voetspore agtergelaat wat navolgingswaardig is. Elke dag het hulle lewens uitbasuin dat God goed is. Hulle voorbeeld het mense besiel. Hulle moed, ten spyte van alle teenstand en vervolging om keer op keer op God se roete te volhard, het almal se verbeelding aangegryp. Dis die soort nalatenskap wat jy en ek vandag al moet voorleef vir ander om dit agterna te doen. Dit wat ons vandag vir die Here doen, moet môre reeds die nuwe geestelike pasaangeërs vir almal rondom ons wees. Daar waar ons vandag aan die Gees gehoorsaam is, moet dit môre reeds ander soos ‘n magneet nadertrek om op ons hakke te volg.

Gebed:

Here Jesus laat my asseblief ‘n navolgingswaardige lewe tot U eer leef. Amen.

bottom of page