Dis stukkend
top of page

Dis stukkend


Lees Romeine 8:21

 

Een van die grootste uitdagings, wat ons as mensdom in die oë staar, is om die sonde van aardverwarming hok te slaan. As jy nog nie na Al Gore se aardskuddende dokumentêre film, An Inconvenient Truth, gekyk het nie, dan moet jy dit onverwyld stroomspeel. Dis absoluut skokkend om die effek van globale verhitting, wat veral deur toksiese gasse, wat ons die lugruim instuur (die sogenaamde green house effect) veroorsaak word, op die ganse skepping te sien. Ons maak onsself dood deur die vergiftiging van ons eie lugruim. Droogtes, oorstromings, tornado’s en ander natuurrampe, wat die aarde toenemend teister, word direk hieraan verbind.

 

Navorsers by die Universiteit van Arizona het bevind dat seevlakke tussen een tot ses meter deur die loop van die 21ste eeu as gevolg van globale verhitting kan styg. Dit beteken dat stede soos London, New York en groot dele van Sjina en Egipte onder water sal wees. ‘n Onlangse studie vanuit VVO-kringe het ook bevind dat die Wes-Kaap teen 2050 ‘n semi-woestyngebied as gevolg hiervan gaan wees. Dit alles is ons voorland as ons nie protesteer nie. Hoe kan ons as Christene ander pad kyk as ons Vader se handewerk so vernietig word? Hoe kan ons nie die noodkrete van die skepping hoor, waarna Paulus reeds 2000 jaar gelede verwys het nie? Hoe kan ons nie die pyn vir ons stukkende wêreld voel, wat die Gees aanhoudend in ons harte ingraveer nie?

 

Gebed:

Gees van die Here, open my oë vir U stukkende wêreld. Amen.

bottom of page