Moenie dat ouderdom jou ooit onkant betrap nie
top of page

Moenie dat ouderdom jou ooit onkant betrap nie


Spreuke 16:31 sê grys hare is soos ’n kosbare kroon vir mense, wat weet hoe om reg te leef. Party mense word egter meer omgesukkeld namate hulle ouer word. Hulle sê wat hulle wil net wanneer hulle wil. Hulle kritiseer alles en almal van vroeg tot laat. Sulke bitterheid daag nie oornag op nie. Dit kom ’n lang pad. Kwaai jongmanne verander algaande in knorrige ou ooms. Moeilike dames ontaard later in selfgesentreerde tannies.


Goddank, die meeste gelowiges word wyser met die jare. Hulle geloof word dieper. Daar kom ’n groter rustigheid in hulle lewe, wat aansteeklik is. Ek dink hier aan ’n paar ouer vriende in my eie lewe, wat suksesvolle lewens agter die rug het, maar dit het nooit hulle identiteit geword nie. Hulle suksesse van gister en eergister is goeie herinneringe, maar hulle het nie nodig om almal gedurig te herinner wie en wat hulle was of wat hulle alles bereik het nie. Ek leer by hulle dat die lewe op die ou end gaan oor ’n diep vrede oor wie jy in die Here is. Oor jou daar wees vir jou familie en vriende. Jaag sulke roetes betyds na. Soek die Here se wysheid gedurig op. Dan betrap die ouderdom jou nooit onkant nie.

bottom of page