Leier Nuusbrief Maart 2021 Deel 2
top of page

Leier Nuusbrief Maart 2021 Deel 2


In hierdie Leierskap nuusbrief skryf Coen Slabber oor Paulus as leier en hoe die laaste asemteue van ‘n sterwende gemeente lyk.
Leier Nuusbrief Maart 2021 Deel 2

Paulus as leier


In Handelinge lees ons van Paulus se sendingreise. In Handelinge 16 word vier eienskappe van Paulus as leier beskryf. Paulus, Silas, Timoteus en later ook Lukas besoek van die gemeentes, wat Paulus vantevore besoek het of gestig het.

‘n Gesonde Christelike leier:


1. Probeer om elke ontmoeting wat hy met iemand anders het, tot voordeel van die ander persoon aan te wend


Oral waar hy gekom het, het Paulus beleggings in mense op emosionele, geestelike en verhoudingsgebied gemaak. Na mense tyd saam met Paulus spandeer het, was hulle beter mense. In Handelinge 15 en 16 lees ons dat Paulus die mense en gemeentes versterk het – hy het hulle bemoedig. Groot leiers maak positiewe beleggings in die lewens van ander.

2. Balanseer sy benadering om God se wil te onderskei


Daar is vier insette wat Paulus beïnvloed het om God se wil te onderskei oor die rigting waarin sy reis moes gaan. In baie dinge gee God vir ons groot vryheid. Daar is egter belangrike besluite wat meer van ons verwag om God se wil te bepaal. Hier kan verskeie insette ons help om die regte besluit te neem:

  • Subjektiewe innerlike getuienis. Dit is as ons God se leiding in ons hart voel. Dit is die gevoel wat ons dikwels na gebed kry. Sommige mense glo dat Paulus se gesig in Troas (Handelinge 16:6 - 10) ’n voorbeeld hiervan is. Paulus het in sy hart gevoel dat hy nie noord of suid moes gaan nie.

  • Omstandighede. Moontlik het God hierdie deure toegemaak as gevolg van Paulus se gesondheid. Mense maak hierdie afleiding, omdat Lukas, ‘n geneesheer, hom later by hulle aangesluit het. God gebruik omstandighede, beide geslote en oop deure, om ons te rig op sy wil. Soms sê God Nee en soms sê Hy Gaan.

  • Nadenke. Paulus het sekerlik baie oor die toe en oop deure van God gedink. God verwag van ons om duidelik te dink en om opsies teen mekaar op te weeg. God verwag nie van Christene om hulle verstand by die deur te los nie.

  • Samewerking. Dit beteken ons nooi wyse mense in ons lewens in - hulle moet ons help om die opsies te oorweeg. Soms het ons die objektiwiteit van ander nodig om ons te help om God se wil te onderskei. Paulus het vir Silas, Timoteus en Lukas by hom gehad om saam met hom te hoor in watter rigting om te gaan.

3. Soek geleenthede om geestelike gesprekke met ander te hê


As Paulus in ‘n stad aangekom het, het hy eerste na die sinagoge gegaan om daar die evangelie te verkondig. In Filippi was daar geen sinagoge nie. Hy gaan dus na die rivier, waar hy vermoed het dat daar ‘n bidplek sou wees. Daar ontmoet hy vir Lidia. Sy was ‘n suksesvolle besigheidsvrou. Deur haar gesprekke met Paulus word sy ‘n Christen.

Tydens daardie reis lei hy ook twee ander mense tot geloof. Paulus was altyd op die uitkyk vir ‘n geleentheid om geestelike gesprekke te hê.


4. Aanvaar probleme met grasie


In Filippi word Paulus en Silas in die tronk gegooi. Hulle het nie gekerm en gekla oor hulle omstandighede nie. Nee, ons lees dat hulle om middernag besig was om te bid en tot lof van God te sing. Hoe kon hulle dit doen? Hulle het geweet dat God ten spyte van hulle haglike omstandighede steeds in beheer was.

Paulus, die leier, dien as model vir gedrag en gesindhede, wat ons ook in ons leierskap moet inbou.


Die laaste asemteue van ‘n sterwende gemeente


If you don’t like change, you’re going to like irrelevance even less.” - Generaal Eric Shinseki.

Daar is min dinge so treurig as om ‘n eens groot gemeente te sien oud word en hoe dit stadig doodgaan. Erger nog is dat hulle nie eers agterkom dat hulle besig is om dood te gaan nie.

In die meeste van hierdie gemeentes is een of ander tyd besluit dat hulle nie hulle bediening gaan aanpas by ‘n gemeenskap, wat besig is om te verander nie. Die laaste tien woorde van ‘n sterwende gemeente is: We’ve never done it that way before. We’re not changing.

Hierdie woorde het ‘n uitkringeffek. Hier is ander kommentare, wat ons in hierdie gemeentes hoor:

  • Is dit nie wonderlik dat ons musiek nie te hard is nie?

  • Is dit nie goed om mense in pakke en dasse te sien nie? Ons respekteer God deur nie denimbroeke of kortbroeke te dra nie.

  • Ons is meer geestelik en ons leerstellings is suiwerder as die vinnig-groeiende gemeente langsaan met hulle afgewaterde evangelie.

  • Kan jy glo dat daardie kerk al ons jongmense steel?

  • Ek hoor ons moet die begroting sny, want mense gee nie meer soos in die verlede nie.

  • Is dit nie wonderlik om al hierdie ruimte in ons kerkbanke te hê nie.

  • Ek hou daarvan om al die versies te sing.

  • Moenie bekommerd wees oor die bywoning nie. Ek sal vir jou sê hoeveel lidmate ons het.

  • Onthou jy nog die goeie ou dae.

  • “Besoekers, staan asseblief.”

  • Ek hoor in daardie gemeente is dit net ‘n vertoning.

  • Ons het nou ‘n komitee vir komitees.

  • Ons preek nie oor geld nie. Ons verkondig die Woord.

  • Ek wil nie daardie vinnige groei hê nie. Wat ons nodig het, is stadige groei.

  • Is dit nie lekker om vinnig uit die parkeerarea te kom nie!

  • Die armes sal altyd by ons wees.

  • Ek is moeg daarvan om die hele tyd van verlore mense te hoor.

  • “Dominee, ek dink ons moet vir herlewing begin bid.”

1. Toename in ouer lidmate

Daar is drie redes vir die demografiese verskuiwing:

  • Die geboortesyfer is besig om af te neem.

  • Die ouer geslag, gebore kort na die Tweede Wêreldoorlog, is groot in getalle.

  • Mense leef toenemend langer.

Gemeentes wat nie vir hierdie ouer lidmate voorsiening maak nie, het reeds die bus verpas.

2. Die mikro-kerkbeweging neem toe

Hier praat ons van gemeentes van 50 of minder lidmate. Hierdie beweging gaan in die toekoms verder in die vorm van huiskerke uitbrei.

3. Digitale strategieë sal die tradisionele strategieë aanvul

Daar is selfs kerkleiers wat ‘n digitale strategie as eerste opsie aanbeveel. In die meeste gemeentes sal nie een strategie prioriteit geniet nie. Baie kerkleiers sien hierdie twee benaderings as aanvullend tot mekaar.

4. Die aantal aangenome gemeentes neem toe

Hierdie is ‘n neiging, wat veral in die VSA vinnig veld wen. Baie siek of sterwende gemeentes word deur gesonde gemeentes aangeneem. Hierdie is ‘n baie positiewe ontwikkeling.

5. Na die pandemie gestabiliseer het, sal die bywoning by eredienste laer wees as voor die pandemie

Daar word verwag dat hierdie afname tussen 20 en 30 persent sal wees. Dit sal veral die groter kerke tref.


6. Die nuwe definisie van ‘n groot kerk sal een wees met meer as 250 mense, wat die eredienste bywoon

Om vandag in die top 10 persent van gemeentes te wees, vereis ‘n erediensbywoning van gemiddeld 400.

7. Denominasies sal verder agteruitgaan

Denominasies sal in 2021 vinniger agteruitgaan. Hierdie negatiewe neiging is die gevolg van:

  • Gemeentes in denominasies sal vinniger agteruitgaan.

  • Daar sal minder nuwe kerke in die denominasies wees.

  • Die kombinasie van kerksluitings en gemeentes, wat hulle aan denominasies onttrek, sal in 2021 vinniger wees.

8. Bydraes sal met 20 – 30 persent verminder

Dit is grootliks as gevolg van verminderde bywoning van eredienste.


9. Ongeveer 10 persent van gemeentes sal besef dat hulle nuwe lewe nodig het

Dit is ‘n goeie teken, want dit wys vir ons gemeentes en kerkleiers besef dat hulle hulp nodig het.

Hierdie bevindings kom uit ‘n artikel deur Thom Rainer in ChurchAnswers.com.


bottom of page