• deur Coen Slabber

Leier Nuusbrief Maart 2021 Deel 1


Mobiliseer om die Groot Opdrag te voltooi


Aan My is gegee alle mag in die hemel en op die aarde. Gaan dan en maak dissipels van al die nasies, deur hulle te doop in die Naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees en hulle te leer om alles te onderhou, wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die tyd . (Matteus 28:18 – 20)

Vir die afgelope 2000 jaar bid Christene al vir die vervulling van hierdie Groot Opdrag. Ons is nog nie daar nie. Meer as 2 biljoen mense het die boodskap van Jesus Christus gehoor. Niks is belangriker as om die Goeie Nuus oor te dra aan diegene wat dit nog nie gehoor het nie en om so ons taak af te handel. Die geskiedenis hang daarvan af. Mense se geestelike bestemming word daardeur bepaal.

Die kerk se geboorte, met verwysing na Handelinge 2, beskryf ‘n model, wat ons kan gebruik om diegene wat nog nie bereik is nie, te bereik. Hier kry ons die Bybelse fondament vir mobilisasie:

1. Ons moet op die Heilige Gees vertrou


As ons nie met die HEILIGE Gees begin, vorentoe gaan en eindig nie, sal ons nooit die taak voltooi nie. Die teenwoordigheid van die Gees maak die verskil. Dit is die verskil tussen die kerk en enige ander organisasie. Geen ander organisasie of regering het die Heilige Gees nie. Maar julle sal krag ontvang, wanneer die Heilige Gees oor julle kom en julle moet my getuies wees in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria en tot aan die einde van die aarde. (Handelinge 1:8) Sonder die Heilige Gees sal ons niks bereik nie. Niks wat ons doen vir diegene wat nog nie bereik is nie, sal gedoen word nie.

2. Gebruik elke moontlike kommunikasiekanaal.


Ons kan nie enige opsie, wat resultate lewer, op die tafel laat nie. In Handelinge 2 praat die Christene in verskillende tale. Die Christene tydens die Pinksterfees in Jerusalem het van verskillende lande gekom. Die Christene kon nie met hulle in net een taal kommunikeer nie. Die Heilige Gees het hulle in staat gestel om in die harttaal van die mense te praat. Ons sal nie ander mense bereik, as ons nie in die taal van hulle hart met hulle praat nie.


Dit gaan nie net daaroor om mense, wat verskillende tale praat, te bereik nie. Ons moet verskillende kanale gebruik om mense van verskillende agtergronde, belangstellings en ondervindings te bereik. Dit mag dalk nodig wees om met mense met die nodige ondervinding uit ‘n ander gemeente saam te werk. Geen kanaal moet nié gebruik word nie. Ons taak is te belangrik om oor metodes te stry.

3. Gebruik elkeen se geestelike gawes


Ons kan nie net vertrou op diegene met die gawes van evangelisasie of profesie nie. Ons het 100 persent deelname nodig. Daar mag geen toeskouers wees nie. Mobiliseer elke lidmaat van die gemeente. Elkeen het ‘n rol om te speel en sy gawes te gebruik. Die gemeente is nie ‘n gehoor nie – dit is ‘n weermag.

Ontwikkel ‘n proses wat toeskouers in lidmate, lidmate in volwasse lidmate en volwasse lidmate in evangeliste verander. Petrus het dit verstaan. In sy toespraak tydens die Pinksterfees haal hy ‘n gedeelte uit Joël aan: En dit sal in die laaste dae gebeur, sê God: Ek sal my Gees op alle mense uitstort – julle seuns en julle dogters sal profeteer, julle jongmense sal visioene sien en julle ou mense sal drome droom. Ja, ook oor my slawe en slavinne sal Ek in daardie dae my Gees uitstort en hulle sal profeteer. (Handelinge 2:17 – 18) Hier word verwys na seuns, dogters en oumense. Niemand word uitgelaat nie. Om hierdie Opdrag van Jesus te voltooi, het ons die hele kerk nodig.

4. Gee aan mense die Bybel


Ons menings of sielkunde sal nie die kerklos mense bereik nie. Ons kultuur sal hulle nie red nie. Dit is die Bybel, wat harte van mense verander. Geen ander boodskap kan dit doen nie. Petrus se toespraak op Pinksterdag was vol van God se Woord. Hy wys vir hulle wat God besig was om daardie dag te doen en hoe God oor hierdie unieke gebeurtenis in sy Woord geprofeteer het. Op daardie dag is ongeveer 3000 mense by die gelowiges gevoeg. Die mense het volhard in die leer van die apostels. Hoekom was God se Woord so belangrik vir die vroeë kerk? Jy kan nie diegene, wat nog nie bereik is, sonder God se Woord bereik nie.

5. Jy moet God se liefde bewys deur saam te werk


Ons grootste getuienis vir God is ons liefde vir mekaar. Die wêreld het ons nodig om vir hulle ‘n ander manier te wys, soos hoe ons saamwerk om God se taak uit te voer. Politiek en denominasies mag ons nie verdeel nie. Ons is nie in ‘n kompetisie om diegene, wat nog nie bereik is nie, te bereik. Ons is in dieselfde span. Die vroeë kerk het dit verstaan. Hulle het volhard in die verbondenheid met mekaar (Handelinge 2:42b). Ons moet uit hulle voorbeeld leer.

6. Ons moet met blydskap loop


Hulle het eensgesind volhard om die tempelterrein daagliks te besoek ... en om hulle maaltye met uitbundige blydskap en met opregte harte te geniet. Hulle het God bly prys, en die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het daagliks verlostes by hulle getal gevoeg. (Handelinge 2:46 – 47)

Die vroeë kerk het besef die uitvoering van die Groot Opdrag is nie iets wat ons doen, omdat dit ons plig is nie. Dit is ‘n roeping, wat ons met blydskap aanpak. Uit dankbaarheid, omdat Hy ons lewens verander het, vertel ons die wêreld van Jesus. Aanbidding gee vir ons energie en vreugde.

7. Ons moet opofferings maak


Ons sal nooit die taak in ons spaartyd afhandel nie. Dit sal nooit gemaklik wees nie. Dit sal opofferings vereis.

Al die gelowiges was bymekaar en het alles gemeenskaplik besit. Hulle het hulle eiendom en besittings verkoop en aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte. (Handelinge 2:44-45) Is die kerk nog vandag vrygewig? Ons bou nie per ongeluk ‘n vrygewige kerk nie. Die grootste ding, wat ons in die lewe kan doen, is om op te offer vir iets groter as onsself.

8. Ons moet eksponensiële groei verwag


God gebruik alle soorte kerke en allerhande metodes om mense te bereik. Daar is nie net een manier om nuwe mense te bereik nie. Daar is egter een uitstaande kenmerk van gemeentes, wat vinnig groei: die leierskap is nie bang om God te vertrou nie. Jesus sê: laat met julle gebeur soos julle glo. (Matteus 9:29) God sê in wese dat ons kies hoeveel hy ons seën.

Wanneer sal ons die taak voltooi? Sodra daar genoeg mense is wat glo dat ons die taak sal voltooi. Daar is niks belangriker as om God se kinders na Hom terug te bring nie.


Priscilla


[Priscilla is die verkleiningsvorm van Priska.]

Priscilla se naam word ses keer in die Nuwe Testament genoem. Ons het min besonderhede van haar, maar die verwysings vertel vir ons van ‘n vrou, wat haar gawes en hulpbronne gebruik het om die verspreiding van die vroeë kerk te bevorder.

Priscilla was ‘n besigheidsvrou wat saam met haar man, Akwila, waarskynlik winkels besit het, wat leerwerke of tente gemaak het. Hulle het onder andere winkels gehad in Rome, Korinte en Efese. Hulle was goeie vriende en bedieningsvennote van Paulus. Toe Paulus die egpaar in Korinte ontmoet het, was hulle reeds gelowiges. Hulle verwelkom vir Paulus, die tentmaker en evangelis, in hulle besigheid en huis. Paulus het hulle gasvryheid vir 18 maande geniet (Handelinge 18). Paulus het in hulle winkel gewerk, waar hy met klante gesels het en die goeie Nuus aan hulle verkondig het. Hy het mense ook in die sinagoges in Korinte geleer. Dit is hoe die gemeentes in Korinte begin het.

Priscilla se leierskap in die vroeë kerk kan maklik vanuit ons moderne Westerse perspektief misgekyk word, veral omdat daar net ses keer na haar verwys word. Maar as ons kyk na die ondervinding en kultuur van Paulus en die oorspronklike gehoor dan besef ons haar betekenis as leier.

In die antieke kultuur was vrouens beskou as die eiendom van hulle mans. Hulle vaders of eggenote moes hulle beskerm as hulle wou oorleef. Vyf uit ses maal noem Paulus en Lukas haar naam eerste as daar na die egpaar verwys word. Dit beklemtoon haar waarde vir die vroeë kerk.


In die antieke kultuur was dit beslis nie aanbeveel dat vroue werk nie, behalwe die tradisionele huishoudelike pligte – sorg vir die familie en huis. Tog as Paulus na haar verwys, noem hy haar my medewerker in Christus (Romeine 16:4). Hiermee plaas hy haar langs Timoteus, Titus, Filemon en Lukas. Paulus heg groot waarde aan haar werk in die gemeentes.


In die antieke kultuur het vrouens gewoonlik geen opleiding gehad nie. Daarom is hulle nie in enige onderrigopset waardeer nie. In die Joodse kultuur is vrouens verbied om mans te onderrig. Tog het sy en haar man vir Apollos onder hulle vlerk geneem: ‘n Jood met die naam Apollos, ‘n boorling van Aleksandrië, het in Efese aangekom. Hy was ‘n welsprekende man, goed onderlê in die Skrifte. Hy het oor die Weg van die Here onderrig ontvang en geesdriftig gepraat en deeglike onderrig gegee oor die dinge, wat op Jesus betrekking het, alhoewel hy net die doop van Johannes geken het. Hy het met vrymoedigheid in die sinagoge begin preek. Toe Priscilla en Akwilla hom hoor, het hulle hom huis toe geneem en vir hom die Weg van God nog duideliker uiteengesit. (Handelinge 18:14 - 16)


In die antieke kultuur het vroue nie toegang tot magsposisies gehad nie. Paulus skryf van die egpaar: Hulle het hulle lewens vir my op die spel geplaas. (Romeine 16:4) In die Grieks-Romeinse verhale was sulke taal slegs vir die held in die verhaal gebruik.

Daar word slegs ses keer in die nuwe testament na Priscilla verwys, maar elke keer op ‘n teen-kulturele wyse. Lukas en Paulus vertel van ‘n vrou wat ‘n groot invloed op die gesondheid en groei van die gemeentes gehad het. Sy het haar gawe van gasvryheid gebruik om huiskerke in haar huis aan te moedig; sy het haar gawe van kennis van die evangelie aangewend om die evangelieboodskap te verduidelik; sy het die vrugte van haar besigheid aangewend om Paulus in haar winkel te verwelkom. So gee sy aan hom ‘n platform vir sy onderrig en prediking.

Paulus skryf van die egpaar: Dit is nie net ek, wat teenoor hulle dankbaar is nie, maar ook al die gemeentes onder die heidene. (Romeine 16:4) Daar is geen groter lof in daardie kultuur vir Priscilla se werk en leierskap in die vroeë Christelike beweging nie.