“Leef jou droom” kan slegte advies wees
top of page

“Leef jou droom” kan slegte advies wees


Hoe kies ‘n mens die soort lewe, wat jy graag wil leef? ‘n Mens hoor hierdie advies die hele tyd: Leef jou droom, volg jou hart, besluit vir jouself. Kinders word voortdurend voorgeskryf om na binne hulleself te kyk, hulleself te vind en hulle eie innerlike kompas te ontdek. Twee geleerdes, Miroslav Volf en Matthew Croasmun, het egter gaan kyk na wat Jesus bedoel met die belofte van ‘n oorvloedige lewe. Hulle het ook gaan kyk na wat die nuutste navorsing vir ons leer oor mense se besluite aangaande ‘n gelukkig lewe. Wat hulle ontdek het, is hóé sleg en oneffektief ons mense daarmee is om besluite te neem wat ons gelukkig maak. Ons weet nie wat ons gelukkig maak nie. Die besluite van mense in die Weste maak hulle net toenemend ongelukkiger. Ons is eenvoudig vrot daarmee om ons eie geestelike en emosionele welsyn deur middel van eie individuele besluitneming te bepaal.


Dis tans veral vanweë twee redes dat ons faal hiermee. Die eerste rede is eenvoudig dat ons te besig is. Navorsing gee te kenne dat hierdie vraag na ‘n vreugdevolle en sinvolle lewe te gewigtig is om sommer so in die verbygaan te beantwoord. Al die afleidings, waarmee ons as gevolg van tegnologie toegegooi word, gemak en vermaak, veroorsaak dat ons nie die nodige ononderbroke aandag wat ons behoort te gee, aan die hierdie vraag kan gee nie. Selfs al sonder ons onsself vir ‘n week sonder ‘n selfoon en skootrekenaar af, sal dit nie genoeg wees nie. Ons breinpaaie is reeds gevorm. Daarom hou ons aan om besluite te neem in die hoop dit dat geluk sal bring, maar ons word voortdurend teleurgestel. Omdat ons nie weet hoe om besluite te neem wat langtermyn vreugde en vervulling verskaf nie, graviteer ons na gewoontes, wat deur verbruikerskeuses gevorm is. Dus kry kortstondige gevoelens, begeertes en smake al die mag in ons daaglikse keuses.


Die tweede rede waarom ons sukkel, is omdat hierdie vraag sedert die ontstaan van die moderne era geprivatiseer is. Ons glo dat elke individu vir homself moet uitvind en besluit hoe ‘n sinvolle lewe lyk. Daar is geen kollektiewe nadenke hieroor nie. Ek moet sélf ontdek. Ek moet mý droom volg en jy moet jóúne volg. Jy moet jou eie antwoord kry.


Natuurlik is ons elkeen se lewens ons eie individuele verantwoordelikheid, maar as ons nie gaan dieper delf in die ryk kollektiewe wysheid van die eeue nie, gaan ons dit mis. Die vraag, Watter soort lewe wil ek hê, moet dus eerder vervang word met die vraag, Watter soort lewe is die moeite werd om te hê. Dan mag ons moontlik iewers kom.


Jesus help ons hiermee. Trouens, Hy help nie net nie, Hy red ons van onsself. Daarom beantwoord Hy hierdie vraag vir ons, in ons plek. Hy ken ons. Hy weet hoe ons werk. Hy weet wat ons nodig het. Hy wil graag hê dat ons floreer. Hy verstaan die lewe. Hy weet ons sal op ons eie sukkel om die vraag reg te beantwoord. Ons sal dit nie regkry nie. Daarom het Hy gekom om vir ons ware lewe te gee.


Daarom sê Hy (Matt 16:24-25): “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry."


Jesus se pleidooi is dus: Moet asseblief nie jou eie droom volg nie. Dit gaan jou nie help nie. Gee dit op. Ruil dit uit vir My droom vir die wêreld, vir My koninkryk, vir ‘n verhouding met My.


Doen dit in elke daaglikse keuse en jy sal eendag besef en ontdek dat jy leef, wérklik leef.

bottom of page