top of page

Die liefde


Lees 1 Korintiërs 13:5-7


Wanneer ek hierdie gedeelte in die Bybel lees, besef ek net hoe belangrik verhoudings vir ‘n gelowige mens moet wees. As ek na vandag se samelewing kyk sien ek baie selfsug en eie belang. Ek sien ongeduldigheid op die paaie en mense wat uiters gevaarlik bestuur sonder om ander in ag te neem. Jarelange vriendskappe breek in stukke as gevolg van jaloesie oor geld en besittings.


Hierdie teks word so baie op troues gelees en gepreek en ek wonder of dit werklik inslag vind by ons. Die liefde is geduldig. Jy loop ‘n tweede myl en byt op jou tande, al voel jy, jy kan nie een tree verder nie. Om geduldig te wees, moet jy meer van jouself opoffer deur stil te bly. Jy moet ‘n tweede myl loop, dalk ‘n derde en ‘n vierde.


Ons is so geneig om onsself met ander mense te vergelyk en dan kom die groen oog monster op ons skouer sit. Jy begeer wat ander het. Ons wil net meer en meer hê. Ons is nie tevrede met wat ons het nie. Ons begeer wat ander mense het. Ons vergelyk ons met hulle en word dan jaloers. Jaloerse mense kraak ander af, omdat hulle nie het wat hulle begeer nie.


‘n Persoon wat uit liefde in verhoudings leef, sal nie grootpraat nie. Jy besef jou eie nederigheid en dat jou eie lewe nog self nie reg is nie. Mooi maniere kom voor ongeduld. Ons kan so maklik ongeduldig met ons kinders of lewensmaat wees. Sluk maar die woorde so ‘n slaggie en verduur maar ‘n keer die kinders of jou man of vrou se woorde of dade.


Die vertaling: Die Nuwe Nuwe Testament, vertaal die gedeelte so treffend! Jy is nooit bly as onreg gepleeg word nie en jubel wanneer die waarheid wen. Daar is ongelukkig so baie onreg en oneerlikheid in ons land dat ons soms die waarheid miskyk. Ons sien nie mooi dinge meer raak nie, maar word verswelg in die verstikkende onreg wat gepleeg word.


Wanneer ek vers 7 lees ruk dit my gemoed. Die vertaling lees:


“ Altyd en in alle omstandighede byt die liefde vas.

Altyd en in alle omstandighede glo die liefde

Altyd en in alle omstandighede hoop die liefde

Altyd en in alle omstandighede volhard die liefde”


Die huwelik is die belangrikste verhouding op aarde waarin ons staan. Voor jou kinders, het jou huwelik gebeur. Kyk weer met verwondering en liefde na jou huweliksmaat. Sien die person met die liefde van die Here raak. Wees geduldig met jou maat en verdra mekaar se swakhede in liefde. Waar daar in liefde geleef word, is daar respek, omgee, geen jaloesie of verkleinering nie. Wanneer daar met God se liefde aan ‘n verhouding gewerk word is daar altyd hoop, God se hoop.


Kyk vandag weer na jou verhoudings met jou man, vrou en die van jou kinders. Volhard deur in liefde daaraan te bou en te werk. Met hierdie lewensuitkyk, waar die liefde seëvier, sal dit jou ander verhoudings seën en laat groei.


Kom ons leef weer die liefde uit!



Comments


bottom of page