John Wick en Winston
top of page

John Wick en Winston


Die John Wick-fliekreeks blyk nogal kontroversieel in baie kringe te wees. Dis te verstane, want dis ‘n genre, wat nogal gewelddadig is binne die konteks van ‘n sluipmoordindustrie. Daarom is dit beslis nie vir almal om te kyk nie. Nietemin is daar, soos wat die flieks ontwikkel, baie interessante en diep temas besig om vorm aan te neem. Die karakter, John Wick, is ‘n individu, wat aanvanklik te na gekom is en wat wraak neem in die eerste fliek. Van die tweede fliek af probeer hy egter net ontsnap en vir sy lewe veg vanuit ‘n sluipmoordnetwerk, wat almal geraak is deur die wraak, wat hy geneem het. Wat opvallend is, is dat ‘n mens in daardie ongenaakbare wêreld van sameswerings, verraad en geweld nooit weet wie vertrou kan word en wie nie. Lojaliteite word slegs bepaal en geswaai deur geld en wat vir ‘n bepaalde indiwidu die mees voordelige en winsgewende ding is om te doen. Niemand kan vertrou word nie. Die wantroue en spanning loop hoog. Almal, wat aanvanklik lojaal lyk, verraai uiteindelik vir John Wick en dan moet hy verder vlug.


Tog is daar van die eerste fliek af een kollega en gesant. wat gedurig Wick te hulp kom. Alhoewel sy lojaliteite en motiewe aanvanklik nie heeltemal duidelik blyk te wees nie, het hy deur die verloop van die vier verhale persoonlik heelwat vir Wick opgeoffer. Sy naam is Winston. In die nuutste fliek, John Wick Chapter 4, was daar ‘n toneel wat my diep geraak het. Op ‘n bepaalde stadium is daar ‘n scenario waar die meeste mense gedink het dat John Wick dood is, of dat hy spoedig sou sterf. Winston neem toe verantwoordelikheid vir sy begrafnis en om vir Wick ‘n grafsteen te reël. In ‘n gesprek met iemand anders sê Winston toe vir iemand:


“I was struggling to decide what to put on his tombstone. How can I sum up a whole life?”


“What did you decide on?” vra sy gespreksgenoot toe vir hom.


Winston antwoord toe eenvoudig:


“Friend.”


Dis al.


Die openbaring van vriendskap in die oomblik was eintlik skokkend in die fliek juis omdat vriendskap tot dusver so skaars was in hierdie reeks rolprente was. ‘n Mens het vermoed dat selfs Winston sy opofferings vir Wick om die een of ander selfsugtige eie belang, waarvan die kyker nog net nie bewus was nie, gemaak het. Hierdie vierde fliek openbaar egter Winston se ware motiewe. Hy is Wick se vriend.


John Wick was baie ander dinge ook: ‘n kollega, rebel, uitgeworpene, ekspert-soldaat.


Maar die woord Friend was nogal onverwags, maar aangenaam en hartroerend.


In hierdie rowwe, gewelddadige en genadelose omgewing vind hierdie twee mense ware lojale vriendskap in mekaar. Winston offer op en lê sy lewe opnuut en onvoorwaardelik vir Wick neer, om geen ander rede as blote vriendskap nie.


Is dit nie wat mense vandag in mekaar nodig het nie? Is dit nie wat die wêreld in die kerk nodig het nie? Almal maak egter oorlog met mekaar op sosiale media, haal mekaar uit, cancel mekaar. Waar is die vriendskappe? Waar is die lojaliteit, deernis en die opoffering vir mekaar?


Jesus sê vir Sy dissipels: “Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriend aflê nie ... Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie ... Ek noem julle vriende...”


In Romeine 5:8 beskryf Paulus hierdie vriendskap van God jeens ons: “Maar God bewys Sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.”


Toe ons nog vyandig teenoor God was, was Hy al ons Vriend. Hy het Sy lewe afgelê. Vyande kan vriende word. Hoe? Deur almal te hanteer asof hulle reeds vriende is. Deur jou lewe neer te lê, deur jou vyande met jou diensbare liefde te skok.


Jesus is ook baie ander dinge vir ons: Hy is ons Here, Herder, Lig, Lewe, Waarheid. Hy is ons Weg, ons daaglikse Brood en Kos, Leermeester, Messias en Koning. Maar Hy kies ook om iets anders vir ons te wees.


Hy is ons Vriend.

bottom of page