Klein dingetjies het ‘n groot impak
top of page

Klein dingetjies het ‘n groot impak


Lees Spreuke 3:9-10


Iemand vertel my een keer van ‘n vriend van hom, wat ‘n besigheid gekoop het. Tot sy ontsteltenis vind hy uit dat die vorige eienaar nooit die werkers se salarisse gedurende die laaste maand, wat hulle in sy diens was, betaal het nie. Wat doen die nuwe eienaar toe? Hy betaal net daar al die werkers uit sy eie sak voordat sy besigheid nog behoorlik afgeskop het. Sy antwoord hoekom hy dit gedoen het, was eenvoudig: “Dis die regte ding om te doen. Dis wat Christus van my vra!” Ek vermoed hierdie een daad van onselfsugtige omgee het sy werkers se harte vir altyd gewen. Vir so ‘n eienaar wil jy mos werk. So ‘n eienaar verstaan dat beslis dat wins maak ook iets heeltemal anders in die koninkryk van God beteken! Dit beteken dat jy mense met die liefde en deernis van God behandel en dat jy hulle nie net as blote werknemers sien nie.


Miskien sê ons dag tot dag dade van deernis as ons tussen ander is baie meer oor ons pad saam met die Here as al ons kerklike gepraat. Geesvervuldheid is soms die duidelikste te sien, wanneer ons mense by ons werk met ‘n radikale ander soort liefde en respek behandel. Ons doodgewone aksies en woorde, wat skielik met vergifnis en deernis deurspek raak, bou veel meer genadebruê as wat ons dink.


Gebed:

Gee dat die doodnormale dinge van elke dag reuse geleenthede word om vir U te leef, Here. Amen.

bottom of page