Eerlikheid versus takt
top of page

Eerlikheid versus takt


Lees Spreuke 15:1


Onlangs luister ek na iemand, wat aan terminale kanker ly, wat oor die TV praat van sy laaste paar maande. Veral een van sy opmerkings het diep in my hart kom vassteek.. Hy het gesê hy wens hy kon langer leef om sy reguit manier van praat met ander mense af te skaal tot groter taktvolheid. Toe wens ek skielik dieselfde.


Ek moet erken ek is ongemaklik met mense se vroom woorde, waaragter dolksteke verskuil lê. Of met mooiweersvriende, wat jou rug hulle teiken maak as jy die slag wegstap. Of met oppervlakkige vroom praatjies net om mekaar te beïndruk met ons geestelikheid. Soms sê ek dit ook sommer padlangs! Daarom vra ek vandag die Here vir groter geduld om nog ‘n slag aan my woorde te herkou, voordat dit my mond vir altyd verlaat. Wil jy dit nie ook saam met my doen nie? Of dalk moet jy juis weer jou eie oordrewe taktvolheid aanpas met ‘n stukkie eerlikheid, wat jy lankal aan iemand anders skuld! Eerlikheid en takt is tegelyk in ons lewe nodig, want beide het ‘n onmisbare plek in die Heilige Gees se arsenaal. Die een sonder die ander is gevaarlik. Daarom moet beide gelyktydig in ons lewe aanwesig wees. Te veel eerlikheid lei tot liefdeloosheid en te veel takt lei tot ‘n toesmeerdery van die waarheid. Maar waar beide in balans is, wen die Gees se deursigtigheid!


Gebed:

Laat eerlikheid en takt gelyk in my lewe tot U eer triomfeer, Gees van God. Amen.

bottom of page