Moenie agter onkunde skuil nie
top of page

Moenie agter onkunde skuil nie


Lees Spreuke 15:4


“Jy kan nie verwag iemand moet jou punt snap, wat ‘n salaris betaal word om dit juis nie te snap nie,” sê iemand onlangs. Ware woorde. Hoe jammer dat te veel mense ‘n lisensie het om onkundig te wees. Daardie afgewaterede verskoning “ek het nie geweet nie,” geld nie regtig nie. Net so ook nie daardie immergroene, wanneer mense iets verkeerd gedoen het nie: “Ek het dit nie so bedoel nie.” Hieragter skuil te veel mense.


Ons almal, wat die Gees tot in die besonderhede van ons allerdaagse lewe wil toelaat, moet onverwyld op die Spreukeboek se roete inval deur eerlik met ons eie motiewe te raak. Dis wat die Gees dringend van ons vra. Hy stroop ons van valshede en sny alle onsuiwerhede uit. Hy sorg dat eerlikheid in ons lewe wen. Ek praat van daardie soort wat-jy-in-my-sien-is-wie-ek-is-eerlikheid. Nie een van ons het by die Heer ‘n lisensie gekry om ligweg met die waarheid om te gaan, wanneer dit ons pas nie. Of om onsself onkundig te hou nie. Kom ons aanvaar ‘n slag verantwoordelikheid vir ons eie lewe in die teenwoordigheid van God en leef met integriteit! Dis een van die boustene van ‘n lewe, wat vol is met die Gees se nuutmakende werke. Dis die getuienis dat die Gees triomfeer in die kleinste detail van ons daaglikse lewe.


Gebed:

Gees van God, U spesialiseer in detail. Wees ook betrokke in die kleinste besonderhede van my eie lewe, asseblief. Amen

bottom of page