Vanaf outomaties na bewustelik
top of page

Vanaf outomaties na bewustelik


Lees Spreuke 3:6


Hoeveel dinge doen ons elke dag outomaties, terwyl ons gedagtes eintlik op ander plekke ronddwaal? Die meeste van die tyd is ons nie eens bewus van hierdie einste oomblikke waarbinne ons leef nie. Daarom hoor ons ook nie mooi wat ander vir ons sê nie, omdat ons koppe besig is om ‘n antwoord gereed te kry. Ons outomatiese leefstyl veroorsaak dat ons selde bewustelik in die hier en nou leef. Daarom glip dit by ons verby, omdat al ons hoop op een of ander oomblik of gebeurtenis gevestig is, wat reeds verby is, of wat nog iewers vorentoe moet aanbreek. Oppas vir so ‘n leefstyl. Dit stomp jou af vir die skoonheid van elke nuwe oomblik, wat die Here deur die Gees aan jou gee.


Begin weer om elke sekonde, elke minuut en elke uur as ‘n gawe uit die Vader se hand te omhels. Leef ín vandag en vír vandag. Besaai diegene, wat jy vandag raakloop, se lewe met ‘n onverwagse stukkie vreugde. Dit gaan jou hart warmer laat en meer sorgvry laat klop! Benut elke stukkie lewe, wat vandag deur die Gees aan jou uitgedeel word, en koop dit vreugdevol uit tot Sy eer. O ja, nooi ook elke ander persoon saam wat vandag jou pad kruis. Laat hulle deel in die voordeel van jou wandeling op die Heilige Gees se pad. Laat jou guns in God se oë ook na hulle toe oorspoel.


Gebed:

Vandag is ‘n feesdag. Dankie vir vandag, drie-enige Heer. Amen.

bottom of page