Jy het oorgenoeg kapasiteit
top of page

Jy het oorgenoeg kapasiteit


Alles het ’n sekere kapasiteit. Enige motor kan net soveel bagasie neem. Selfone en rekenaars het net soveel geheue en spasie. Dieselfde gebeur met ons as mense. Ons raak vol. Dit lei ek af as ek opmerkings hoor soos: “Ek is nou behoorlik keelvol.” Dan weet ek iemand se geduld-spasie is min of meer opgebruik. As iemand iets sê soos: “My beker loop oor van dankbaarheid,” dan weet ek hulle blydskap-kapasiteit is oorskry. Dit lek selfs al uit oor hulle lippe.


Ons almal het ’n kapasiteit vir enigiets vanaf geduld tot vergifnis. Van laasgenoemde gepraat, Petrus is bekend vir sy ‘ruim’ aanbod aan Jesus daar in Matteus 18 om sy eie vergifnis-kapasiteit vanaf drie keer na ’n volle sewe keer op te stoot. Terwyl die godsdienstiges van sy dag met ’n kapasiteit van drie vergifnisse per persoon gewerk het, is Petrus bereid om dit meer as te verdubbel. Maar Jesus is nie beïndruk nie. Nie sewe keer nie, maar sewentig maal sewe keer! Dit is sy nuwe standaard.


Ons kapasiteit vir vergifnis is toe nie naastenby so beperk soos wat Petrus dink nie; ook nie ons kapasiteit vir liefde en omgee nie. God het dit eindeloos vergroot. Ons benut dit net nie. Ons verkies steeds om daardie verbode kapasiteit te benut om te haat, te skinder, en te wantrou. Ons het altyd kapasiteit vir nog iemand van wie ons nie hou nie. Jesus roep ons egter op tot ’n hoër standaard - Syne. Hy het reeds eindelose nuwe kapasiteit in ons geskep vir liefde. Oefen dit in. Gebruik dit. Hoe? Wees respekvol teenoor mense. Neem ander altyd in ag. Wees die minste. Dien mense. Dra hulle laste. Sien hulle nood raak. Luister na wat hulle sê. Help hulle. Gee om. Hou aan al sê hulle nie dankie nie. Of al weet hulle dit nie. Jy kan! Jy moet! Christus het jou kapasiteit om lief te hê eindeloos verhoog.

bottom of page