Jesus mors nie met woorde nie
top of page

Jesus mors nie met woorde nie


In my kinderdae het dominees togas gedra, wanneer hulle preek. In sommige kerke het hulle ook ’n seremoniële lappie, bekend as ’n beffie, om hul nekke gedra. Toe iemand een keer vir ’n leraar vra hoekom hulle dit om hul nek dra, het hy droogweg opgemerk dat dit eintlik ’n servet is, “want ons is morsig met ons woorde!” Ongelukkig doen baie mense dit vandag nog - ek bedoel hulle mors met woorde. Hulle glo daardie persepsie: “Langer is beter!” Langer navorsing, langer nadenke, langer vergaderings, langer samekomste, langer gesprekke, langer preke en langer gebede is blykbaar die geheim tot die ontsluiting van die waarheid. Wel, nie altyd nie. Langer is nie outomaties meer korrek, of meer betroubaar nie. Korter is dikwels beter.


Insig, deursigtigheid, wysheid en waarheid is nie afhanklik van ’n massa woorde nie. Dít leer ek by Jesus. Toe Hy op aarde was, het Hy nooit met woorde gemors nie. Die meeste van Sy uitsprake is kort en kragtig:


“Salig is die wat honger en dors na dit wat reg is. Hulle sal versadig word.”

“Soek heel eerste die koninkryk van God en die res sal vir jou bygevoeg word.”

“As jy agter My wil aankom, moet jy jou kruis optel en My volg.”

“Wie eerste is, sal laaste wees en wie laaste is, eerste.”


Jesus se kort uitsprake is nie net mooiklinkende woorde nie. Of goed-voel lesse nie. Elke slag wil Jesus hiermee ‘n ruim venster oopmaak op God se wêreld. Sy kort woorde is ook uitnodigings om vars en anders oor God en oor die lewe te dink. Dit is lewensveranderende padwysers na God en na mekaar toe. Jesus se woorde gee lewe vir ewig, soos wat Petrus in Johannes 6 bely. Jesus het nie ’n stortvloed van woorde nodig nie. Al wat vir Hom saak maak, is die regte woorde! Leer asseblief hierdie lewensbelangrike les by Hom. Leer dat die waarheid gewoonlik kort en kragtig is. Moenie morsig met jou eie woorde wees nie. Leer dit oor en oor by Jesus. Leer dit ook by diegene, wat nie met woorde mors, wanneer hulle oor God en oor die lewe praat nie.

© 2024 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Payfast_white.png
snapscan grys_edited_edited.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • Whatsapp
  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon

Laai ons "app" af:

Apple store wit.png
bottom of page