• Stephan Joubert

Een keer was ’n doodloopstraat die regte straat


Om op te eindig in ’n doodloopstraat, beteken jy het iewers verkeerd gery. Doodloopstrate is die verkeerde bestemming, as jy op pad is na ’n ander plek toe. Dit lyk of so-iets met Jesus in Jerusalem gedurende Paastydgebeur. Hy beland daar in ’n doodloopstraat, letterlik! ’n Houtkruis versper Sy pad daar.

Maar wag, Jesus het nie verdwaal nie. Hy was steeds op die regte koers, daar aan die kruis. Sy roete het kruis toe geloop. Dit is daar waar die godsdienstiges van die dag finaal met Hom wou afreken. Jesus was net te uitdagend teenoor al hulle dooie rituele en wette. Boonop het Hy gesê Hy is die Seun van God en die Messias. Sulke opmerkings was in hulle oë die dood waardig. Daarom het ’n houtkruis Jesus in Jerusalem ingewag. Daar is Hy tot in die dood toe verneder. Daar is Hy van alle menswaardigheid gestroop. Tog is daardie einste doodloopstraat die regte straat. Daar het Jesus Homself prysgegee sodat ons almal kan leef. Die kruis van Golgota is die plek van genade. Daar verloor die dood en daar wen nuwe lewe, want ’n leë graf staan ook anderkant die kruis. Jesus se doodloopstraat is Sy lewensstraat. Prys die Here - nou is dit myne ook!