Vreugde wen, want Jesus wen
top of page

Vreugde wen, want Jesus wen


Johannes 20:1-18 vertel vir ons van Jesus se eerste gesprek kort nadat Hy die dood gefnuik het. Dit gebeur vroeg daardie Sondag, wanneer Maria Magdalena by die graf opdaag. Sy hoor Iemand agter haar. Dit is Jesus. Haar eie hartseer veroorsaak egter dat sy Hom nie herken nie. Sy verwar Hom met die plaaslike tuinier. Fout, groot fout! “Waar is Jesus se liggaam?” vra sy vol droefheid. Toe spreek Jesus haar reguit op haar naam aan: “Maria!” Net dit. Dit ruk haar tot stilstand. Dit is presies die regte hemelse oogsalf. Maria Magdalena se oë gaan dadelik oop. Sy besef dit is haar Heer, wat hier by haar is. Die kruis is toe nie ’n doodloopstraat nie. Jesus het Sy woord gehou. Hy is sterker as die dood. Hy het die dood uit die pad geloop. Hy het opgestaan. Hy leef.


Maria Magdalena se herontmoeting met Jesus verander daar op die plek haar ganse lewe. Haar vreugde ken skielik geen perke nie. Haar Heer leef. Boonop wil Hy ook hê ander mense moet in haar vreugde deel. Hy wil nie dat Sy opstanding ’n geheim bly nie. Daarom moet Maria hierdie goeie nuus met Jesus se dissipels gaan deel. Hulle moet weet Hy leef sodat hulle saam kan feesvier.


Die feesnuus dat Jesus leef, is lewensveranderend. Dit moet orals uitgebasuin word. Almal moet weet die dood het nie die finale sê nie. Die kruis is die groot afbetaalplek. Die kruis is God se plek van versoening. Dit is Sy plek van vrede en nuwe lewe. By die kruis is sonde en dood ’n finale knou gegee. Jesus se opstanding bevestig dit. Hy het gewen. Ons is nie meer gevangenes nie. Ons lewe het nou nuwe betekenis. Saam met Maria Magdalena vier ons fees. Saam met haar is ons draers van die beste goeie nuus ooit. Saam met haar borrel die evangelie uit oor ons ganse lewe. Ons vertel graag dat Jesus leef! Ons basuin dit van die dakke af dat die Heer opgestaan het. Vreugde wen in ons lewe, want Jesus wen!

bottom of page