• Stephan Joubert

My uitkenningslied voor die Here


Die skryfster, Maria Popova, vertel hoe haar familie gedurende haar kinderjare ’n melodieuse uitkenningsteken vir mekaar gehad het. Wanneer een van hulle in ’n groot skare verlore geraak het, moes hulle net hierdie uitkenningsteken hardop fluit. Dan het ander familielede dadelik geweet waar hulle is. Sy sê haar pa se uitkenningsteken was die Beatles se “Yellow submarine.” Hierdie kenwysie het later verander in meer as ‘n uitkenningslied. Dit het verander in haar ouers se identiteitmerker vir mekaar, oftewel, hulle “life song.”


Ons elkeen benodig ook ’n “life song.” Nee, dit hoef nie noodwendig ’n regte lied te wees nie. Dit kan sommer net een sin wees, wat die doel van ons lewe kort en kragtig saamvat. Kyk maar na Paulus. Sy lewenslied was glashelder en duidelik: “Vir my is die lewe Christus!” (Filippense 1:21). Neem Josua as voorbeeld. Hy is steeds tydloos beroemd vir sy eenlyner daar teen die einde van sy lewe: “Ek en my familie sal die Here dien.” (Josua 24:15) Of dink aan die woorde van Tomas, wanneer hy in die opgestane Christus vasloop en dan uitroep: “My Here en my God!” (Johannes 20:28) Hoe sou jou eie uitkenningslied voor die Here klink? En tussen ander mense? Watter woorde sal jou lewe voortaan kenmerk?