Jazz en Vonke
top of page

Jazz en Vonke


Siegfried Louw skryf in sy nuutste My Lewe nuusbrief wat ons by die nuwe Pixar fliek, Soul kan leer tov ons geloof.
Jazz en Vonke

Lank gelede het ek Sondae tydens middagete in ʼn hotel by die see klavier gespeel. Ek kon nooit lekker uitvind of ek die mense rustig gemaak het en of ek hulle vinniger laat eet het nie. Maar een ding het ek oor foute agter die klawers geleer: As jy ʼn fout maak, herhaal dit ʼn paar keer. Dan noem jy dit “jazz”.

Dit is natuurlik nie werklik hoe jazz werk nie. Maar jazz breek wel die reëls. Dit vermeng akkoorde en style met mekaar. ʼn Uitvoering kry ʼn lewe van sy eie, gemaak vir die oomblik. Niks word perfek by voorskrifte ingepas nie.


In Pixar se nuutste fliek, Soul, is die hoofkarakter ʼn jazz-musikant. Ons almal weet al van die Great Beyond (die wêreld na die lewe hier). In Soul is daar ook ʼn Great Before. Dit is die plek waar siele in die storie voorberei word vir hulle lewe op aarde. Daar moet jy jou spark ontdek voordat jy aarde toe kan kom. Dit is daardie vonk wat die glinster in jou oog sit, die huppel in jou stap en die energie in jou bewegings.

Ek het sommer aan baie mense in my lewe begin dink.

Dit lyk of baie van ons oorgeskakel het na outomatiese funksionering. Die lewe is net te onvoorspelbaar - wat help dit ons raak opgewonde oor die toekoms? Ek hoor en sien selfs klein kinders, wat skielik onseker voel oor hoekom hulle hier is. Baie van ons se vonk het verdwyn. Dit is asof die afgelope jaar ons fut gesteel het. Ons voel effens verlore in ons situasie.


In Soul sien ons hoe siele se innerlike vonk hulle laat lewe kry. Ons harte raak warm wanneer ons die vonk herken - ons voel dit wanneer ons ons beste gee en ons gawes uitleef. Maar daar is ook Lost Souls. In die storie is daar twee moontlike redes vir verlore raak. Die een rede is om jou vonk te verloor en te dink jy kan dit nooit weer vind nie. Die ander rede is om so obsessief oor jou vonk te raak, dat dit al is waarvoor jy lewe.

Jesus het gekom dat ons die Lewe kan hê. In oorvloed (Johannes 10:10). Ek sien hoe Hy gewéét het waarvoor Hy gekom het. Sy vonk het mense genees en heelgemaak. Sy vonk het Sy lewe gekos, maar die donkerte kon dié Vonk nie blus nie.


Miskien het ʼn stukkie van jou die afgelope maande gesterf. Dalk was dit goed dat daardie stukkie gesterf het. Dalk nie. Maar dit kan ook wees dat die tyd aangebreek het vir opstaan. Om jou vonk terug te vind by die Een, wat nie die dowwe lamppit uitdoof nie (Jes. 42:3).

Doen jou ding. Met foute en al. Noem dit jazz, as jy wil. Maar jy hoef nie ʼn Lost Soul te wees nie. Vind jouself in Jesus.

bottom of page