• Stephan Joubert

In 2022 speel my gebede nie in ’n geriefsone af nie


Dit is reg dat ons gereeld en getrou bid. Paulus beveel ons juis in 1 Tessalonisense 5:17 om te bid sonder ophou. Maar een gevaar, wat hiermee gepaard gaan, is dat ons later so gewoond raak aan gebed dat ons onnadenkend en oorgemaklik met die Here begin praat. Miskien is ons almal te familiêr met God. Ons gesprekke met die Here het reeds tot kamertemperatuur afgekoel. Hoor dan net hoe maklik sê mense deesdae dinge soos: “God het vir my dit of dat gesê…”


Egte gebed is om elke keer van voor af met God te praat. Elke gebed is ’n splinternuwe gebed. Elke gebed begin opnuut met respek, eerbied, aanbidding. Ons storm nooit onnadenkend by die hemelse deure in en onderbreek almal daar met ons versoeke en gee dan haastig pad nie. Ons bid nadenkend, versigtig, selfondersoekend. Ons besef ons is in gesprek met die God van hemel en aarde. Daarom ken ons altyd ons plek. Hy is ons Vader in Christus, maar Hy is in die hemel. Hy is naby, maar Hy is ook heilig. Ons besef dit. Ons bid versigtig, want ons weet ons is nie in ’n geriefsone as ons met die lewende God praat nie.