In 2022 bid ek nie “outomaties” nie
top of page

In 2022 bid ek nie “outomaties” nie


In 2013 het ’n ervare rotsklimmer, Susan Mailloux, tragies in Amerika gesterf. Sy het vergeet om haar klimharnas aan die reddingstou vas te maak, toe sy teen ’n rotsmuur in ’n gimnasium uitgeklim het. Een kenner het na die tyd gesê sy was so gewoond aan hierdie manier van klim dat sy dit op “autopilot” gedoen het. Sulke noodlottige foute kan insluip as ons vir jare lank iets oor en oor doen. Ons lees die Bybel outomaties. Ons ry outomaties dieselfde roetes werktoe. Ons sê outomaties dieselfde dinge as ons oor dieselfde holrug-geryde temas praat. Sulke outomatiese handelinge laat ons afstomp, veral op geloofsgebied. Dan bid ons onnadenkend sonder om enige noemenswaardige lewensverandering te verwag. Moenie dat dit in 2022 met jou gebedslewe gebeur nie.


Gebed is nie maar net om ’n paar gepaste woorde vir God te sê voor ete of slapenstyd of in die kerk nie. Wanneer ons op God se terrein is, is ons altyd op heilige grond. Dit is lewensveranderende gebied. Ons moet ons plek hier ken. Ons moet bewustelik aanwesig wees in die Here se teenwoordigheid. Ons moet wag op die Here (Habakuk 2:1). Ons moet ons woorde versigtig kies as ons met Hom praat (Prediker 5:1-2). Ons moet nederig wees voor Sy aangesig (Jakobus 4:7-8). Dan leef ons met die regte aandagtigheid in 2022.

bottom of page