COVID-19 en kie doof nie Jesus se helder lig uit in 2022 nie
top of page

COVID-19 en kie doof nie Jesus se helder lig uit in 2022 nie


Kan jy dit glo, nog ’n feesseisoen is agter ons! Kersfees en die Nuwejaar is oor en verby. Party mense sal egter dadelik vra: Was daar ooit so iets soos ’n feesseisoen? Sedert die Covid-pandemie ons almal se onwelkome metgesel is, is daar al hoe minder redes vir feesviering. Die afgelope jaar of twee was vir derduisende nie vreugdevol nie. Werkloosheid, armoede en ander probleme het baie mense se laaste bietjie hoop in die sand laat wegsyfer. Daarom is dit skielik nie meer so maklik soos vroeër jare om vir mekaar te sê: “Voorspoedige Nuwejaar” nie. Baie mense assosieer seën en voorspoed immers met die idee dat dinge goed moet gaan.


Maar hier is ’n Bybelse nuusflits: Die Here is ook by ons hier in 2022. Hy is by ons te midde van al ons uitdagings en onsekerhede. Christus is Immanuel; God met ons. Vir Hom is voorspoed en seëninge glad nie afhanklik van dit waaraan baie mense hier op die planeet dit meet nie. Jesus is ons Voorspoed. Hy is ons Lewende Seën. Hy is ons Lewe en ons Lig. Niemand kan Sy lig uitdoof nie. Tot in ewigheid sal niks dit regkry nie. Geen moeilikheid is ook groot genoeg om Jesus se stem stil te maak nie. Sorg daarom dat jy in 2022 in sy lig wandel. Loop die heel jaar naby aan Hom. In Jesus se omgewing reën dit altyd seën. In Hom leef jy altyd ’n geseënde lewe. Daarom is 2022 ’n goeie Nuwejaar vir jou as jy dit saam met Jesus bewandel en beleef. Dan is dit ’n mooi Nuwejaar waar Jesus die Here van jou lewe is!

bottom of page