Goeie Bedoelings
top of page

Goeie Bedoelings


Ivor Swartz skryf in sy nuutste My Lewe nuusbrief oor die impak van goeie bedoelings in kinders se lewens.
Goeie Bedoelings

Ek dink deesdae baie aan my oorlede moeder. Sy was ‘n yster in my lewe. Haar storie en hoe sy ons grootgemaak het, beslaan ‘n groot deel van my boek, Die Verlore Seun Vannie Gaatjie. Sy het tot op haar sterfbed nét een wens en gebed gehad: dat ek en my jonger broer, Peter, die Jesus aan wie sy haar lewe toegewy het, moet ontmoet.

Ek is vandag voltyds ‘n jeugpastoor en Ma Lettie se gebede vir Peter word nou deur my voortgesit. As enkelouer sou sy nooit geld en besittings vir ons kon agterlaat nie, maar sy het gebid. Sy het God vertrou dat ons lewens eendag vir meer kan staan as wat sy ooit vir ons kon gee.

Ek is oortuig daarvan dat elke ouer nét die beste vir hulle kinders wil gee; dat ouers wil hê hulle kinders moet iets kan bydra om die wêreld ‘n beter plek te maak. Ek glo elke ouer se bedoeling is om hul kinders ‘n goeie lewe te gee; dat goedheid en guns hulle sal volg; dat hulle lang lewens sal hê. 

Só was dit ook die geval met die moeder van Johannes en Jakobus - in Mattheus 20:20 - toe sy eerbiedig voor Jesus kniel om Hom ‘n guns te vra: dat haar twee seuns tog net op die ereplekke regs en links van Jesus in Sy koninkryk mag sit. Dit was waarskynlik haar doodonskuldige manier om ‘n pensioenfonds vir die kinders te probeer agterlaat. Sy wou hê dat hulle as leiers in ereplekke gesien moes word. Ek wonder hoeveel ouers vra ook met die beste beste bedoelings dieselfde guns van God? Dat Hy hulle kinders groot, sterk, invloedryk sal maak en in hooggeplaaste posisies sal laat beland. Ongelukkkig vergeet hulle dan ook meestal om tot God te bid dat hulle kinders Hom in al hul weë sal ken en dat húlle ook Sy bitter lydensbeker sal drink, wanneer Hy dit van hulle vra. Hy het dit ook van dié moeder in Mattheus 20 gevra.

Jy sien, ons lewe in ‘n wêreld waar alles ‘n opwaartse kurwe moet toon: beleggings, geld in die bank, vriende, loopbaansukses, sosiale media-followers, selfs views op ons kerke se aanlyndienste. Alles moet lei tot meer, beter, groter, voller. Jesus daarenteen nooi Sy volgelinge op ‘n afwaartse pad van selfloosheid, selfverloëning en diensbaarheid. Kom ons leer meer hiervan vir ons kinders – sodoende sal ons ‘n generasie sien, wat ‘n nasie kan help verander!

Ek dink sommer aan daardie bekende gedig van Antjie Krog, waarin sy eer betoon aan haar eie moeder - die gedig eindig met dié woorde: 

ek is so jammer mamma

dat ek nie is 

wat ek graag vir jou wil wees nie.

Ek hoop van harte dat my kinders veel eerder sal najaag wat hulle vir God kan wees en beteken; dat hulle Hom sal wil tevrede stel en nie slegs die goeie lewe soek, wat ek vir hulle wil gee nie, al beteken dit dat hulle ‘n lydensbeker moet drink!

Mag jou hart se gebed ook vir jou kinders wees dat hulle Jesus sal ken en in gehoorsaamheid agter Hom sal stap, ongeag die koste!

bottom of page