God wandel in Sy Tuin
top of page

God wandel in Sy Tuin


Lees Genesis 3:8


Die afgelope week het ons wonderlike reën gehad. Die aarde is deurdrenk met nodige reën. As ‘n mens na n reënbui deur die tuin stap, ruik alles so lekker vars en skoon. As ons nou nie ‘n lekker reënbui gehad het nie, is dit vir my ‘n heerlike ding om die tuin nat te spuit. Dit voel vir my of al die moeilikheid van die land, of sommer net bekommernisse, saam met die water wegspoel. Tuin is gelyk aan rustig word en kalm wees. Ek sit baie keer sommer net op die gras en trek bossies uit. Dit is heerlike tyd wat ek saam met die Here spandeer. Ek gesels en vertel vir Hom sommer van alles in my lewe.


Nadat Adam en Eva gesondig het, hoor hulle God in die tuin wandel.Ek kan my net die rustigheid van die tuin van Eden voorstel. Daar was geen stadsgedruis of sirenes nie. Al wat ‘n mens kon hoor was die gesing van die voëls, insekte wat saamsing of diere, wat deur die plante ritsel. Dit moet ongelooflik rustig en kalm gewees het. God stap in Sy tuin en bewonder die werke van Sy hande in die koel aandlug. Hy asem dit in, wat Hy geskep het. Hy stap rustig, en streel Sy hande oor die plante. Hy het tyd.


Ek lees die gedeelte in die Bybel en dink aan ons lewens vandag. Daar is so ‘n enorme verskil! Hoe vining loop jy of jaag jy van plek tot plek. Ons lewens is so oorvol en besig met dinge wat ons moet doen. Geraas het ook deel van ons lewens geword! Ons jaag heeltyd in die vinnige baan. Hoor jy nog God se stem as Hy na jou roep? Weet jy as Hy met jou praat?


As jy God se stem wil herken of hoor, sal jy doelbewus stadiger moet leef en loop. Jy sal n daadwerklike poging moet aanwend om rustig te wees, anders sal jy God se woord of stem nooit beleef nie. Dit gaan nie werk as jy God so in die verbygaan probeer herken en hoor nie.


Maak dus vandag ‘n doelbewuste besluit om tyd vir God te maak. Tyd vir God beteken om rustig te wees sodat jy kan hoor wat Hy vir jou wil sê! Die Here wil tyd saam met jou spandeer. Jy is Sy kind. Hy wil hoor wat jy vir Hom wil sê. Maak tyd vir Hom! Jesus se loopspoed was 1 km per uur. Teen watter spoed snel jy verby? Jesus wys vir jou om stadiger te leef en jy waai vir Hom.


Maak weer tyd vir die Here en stap rustig saam met Hom. Doen die lewe met die Here se hand in jou hand.

bottom of page