top of page
Writer's pictureAlet Gardner

Leeg getap


Dit gebeur so maklik dat ek self ná ‘n groot geleentheid, soos ‘n heerlike familievakansie (natuurlik nie altyd so heerlik nie), leeggetap voel … leeggetap ís.


Na een so ‘n geleentheid, ‘n heerlike familiegeleentheid, het ek in my stiltetyd aan die Here se voete gaan sit en gevra: “Here, nou het ek kraaikos nodig. Weg van mense, weg van verantwoordelikheid, weg van enige situasie, waar ek van myself moet gee, want ek het niks meer om te gee nie.” Denkende aan 1 Konings 17 se verhaal van Elia, wat deur die kraaie gevoed is, was ek inderdaad reg vir hemelse “kraaikos”.


Met my Bybel op my skoot was dit genesend en inspirerend om te lees hoe die Here vir Elia vars water en brood voorsien het, daar waar hy homself gaan afsonder het. Vir my as Nuwe Testamentiese gelowige, het Hy my in my tydjie van afsondering met die vars fonteinwater van sy Heilige Gees en die voedsaamheid van sy Woord verkwik. Hy het my daaraan herinner dat Sy genade vir my genoeg is, dat Hy sien wanneer ek moeg en leeggetap is, dat Hy weer nuwe krag gee.


Soos in Elia se geval, was dit ook nie die einde van die les nie. Ek moet weer opstaan en gaan dien waar die Here my stuur. Ek kan Hom vertrou om my te beskerm en om te voorsien wat ek nodig het, terwyl ek dien. In my geval is daar my liefdevolle man en getroue vriendinne, wat omgee en ondersteun waar nodig. Waar mense se arms te kort is om te help, is die Here in Sy trou daar, wanneer ek Hom nodig het. Hy het mos belowe: I will never [under any circumstances] desert you [nor give you up nor leave you without support, nor will I in any degree leave you helpless], nor will I forsake or let you down or relax My hold on you [assuredly not]! (Hebrews 13:5b AMP)

Comments


bottom of page