Geroep vir ‘n tyd soos hierdie
top of page

Geroep vir ‘n tyd soos hierdie


Die verhaal van Ester is vir my aangrypend. Dit lees soos ʼn boeiende roman, wat jy nie kan neersit nie. Dit vertel ons van ‘n Joodse weeskind, Hadassa, wat by haar oom, Mordegai grootgeword het. Sy was pragtig en is later in die koning se harem opgeneem. Sy was vir die koning die mooiste in sy hele harem en hy het haar tot koningin gekroon. So het ‘n Joodse meisie, in ‘n vreemde land, koningin Ester geword. Een van die koning se raadgewers, Haman het egter die Jode gehaat en aan die koning gesê dat hy voorstel dat al die Jode uitgeroei word. Mordegai het Ester gevra om by die koning te smeek om nie die Jode uit te roei nie. In Ester 4:7 lees ons die volgende: “Wie weet of dit nie miskien juis met die oog op ‘n tyd soos hierdie is dat jy koningin geword het nie.” Ester het Mordegai versoek om vir die Jode te vra om vir drie dae te vas en bid en sy het ook vir drie dae gevas en gebid. Daarna het sy haar versoek aan die koning gerig en hy het ingestem om nie die Jode uit te roei nie.


Ek dink dat ons, wat bely dat Jesus in ons harte leef, ook vir ‘n tyd soos hierdie geroep is. Miskien moet jy soos Ester eers oor die saak bid en hoor waarvoor die Here jou wil gebruik. Miskien weet jy reeds, maar jy is bang om die volgende stap te neem, omdat dit sal beteken dat wat vir jou bekend is, gaan verander. Onthou, Ester was nie ‘n natuurlike heldin nie. Sy was skrikkerig om aan Mordegai se versoek te voldoen. Nadat sy egter daaroor gebid het, het sy die krag by God gekry om te doen waarvoor Hy haar geroep het. Die Here roep gewone mense om buitengewone dinge te doen.


Dalk roep die Here jou nie om lewensveranderende keuses te maak nie. Onthou net dat jy ‘n verskil deur jou handel en wandel kan maak. Deur die manier waarop jy mense van alle rasse en gelowe met liefde en respek hanteer. Mense se lewens kan ook aangeraak word, as hulle sien hoe jy alles, wat jy doen, doen asof jy dit vir die Here doen. Hoe jy voluit lewe. Mense word aangeraak, as hulle hoor hoe jy getuig van God se genade.


Miskien voel jy ontevrede in jou werksplek of in omstandighede by jou huis. Onthou dan om te blom waar jy geplant is. As God nie vir jou ander deure oopmaak nie, moet jy ook onthou dat hoe jy op jou omstandighede reageer, ook ander mense se lewens aanraak. Vra elke dag vir die Here om jou te gebruik, waar jy ook al is. Hê mense lief. Maak ‘n verskil.

bottom of page