God se Seun mag nooit weer op ‘n uitverkoping wees nie!
top of page

God se Seun mag nooit weer op ‘n uitverkoping wees nie!


Dertig silwer muntstukke! Vir presies dertig silwerstukke is die Seun van God se lewe aan die godsdienstige leiers in Jerusalem opgeveil. Dertig silwer muntstukke is die bedrag, wat hulle aan Judas Iskariot vir sy verraad kort voor Paasfees betaal het (Matteus 26:15). Volgens Eksodus 21:32 was dertig silwer muntstukke (of shekels, soos wat dit genoem is) die waarde van ’n Joodse slaaf. Josef is op sy beurt jare tevore vir 20 silwerstukke aan slawehandelaars deur sy broers verkoop (Genesis 37:28). In Levitikus 27:1-3 lees ons ook dat wanneer mense godsdienstige geloftes gemaak het om hulleself aan die Here se diens te wy (en as hulle later dalk hulle hulself hieruit wou loskoop), dan was die waarde van ’n man tussen die ouderdom van twintig en sestig jaar op vyftig silwerstukke bereken.


Judas Iskariot was bereid om ’n geldwaarde aan Jesus te koppel, een wat sinoniem is met dié van ’n Joodse slaaf. Hy was bereid om sy Heer skaamteloos uit te verkoop aan die binnekringleiers van Jerusalem. Hulle almal het daardie dag hulle sin gekry. Die godsdienstige leiers het Jesus gekry en Judas het geld gekry. Die volgende dag sou Judas sy kant van die ooreenkoms nakom. Met ’n soen sou hy vir Jesus aan die soldate uitwys, wat Hom in die donker moes kom vang. Judas was selfs bereid om die moordplanne teen Jesus met ’n openbare uitverkoopsoen te onderskryf. So het hy sy siel vir geld uitverkoop.


Moenie dat jou lojaliteit aan Jesus ooit uitverkoop word nie. Moenie dat daar ooit in jou hart ’n prys op Jesus geplaas word, waarvoor jy Hom sal verloën nie. Kyk net wat het dit Judas gekos. Volg Jesus met alles in jou. Volg Hom al die pad, al moet daar ook ’n kruis op jou skouers rus. Volg Hom, wat die ware lewe is. Volg Hom, al is jy die enigste een en al is jy alleen! Hoor weer: moenie dat jou lojaliteit aan Jesus ooit op uitverkoop word nie. Nie nou nie, nie later nie, nooit nie!

bottom of page