Die waarheid is ook taktvol
top of page

Die waarheid is ook taktvol


Hoekom gee mense nie altyd vir jou ’n reguit antwoord as jy hulle die waarheid vra nie? Daar is sekerlik baie redes hiervoor, maar dalk gebeur dit, omdat hulle jou nie wil seermaak nie. Of omdat ’n reguit antwoord hulleself kan benadeel. Padlangse waarhede is altyd skaars. Maar wag, dit is nie elke slag die beste roete nie. Vra vir die profeet Natan.


In 2 Samuel 12 lees ons hoedat Natan gestuur word om koning Dawid se sondes te ontmasker. Dit was na Dawid se eskapades met Batseba en nadat hy gereël het dat haar man in die voorste gevegslinies geplaas moes word sodat hy sou sterf. Natan het geweet dit is ‘n lewensgevaarlike taak, wat op sy skouers rus. Profete wat konings gekritiseer het, het nooit lank geleef in daardie dae nie. Maar toe besluit Natan om vir Dawid ’n verhaaltjie te vertel van ’n arm man wat ’n mak skaap gehad het. Dit was soos ’n kind in sy huis. Sy ryk buurman het op ’n dag die skaap kom vat. Hy het dit vir sy gaste gegee as ete. Dawid was briesend hieroor. Hy wou wraak neem en die ryk man gaan uitsorteer. Maar toe sê Natan vir hom: “Jý is diė man!” So het die waarheid daardie dag reg by Dawid aangeland. Natan se taktvolle waarheid het gehelp om die koning tot inkeer te bring. Leer by hom hoe om God se waarheid beter en meer taktvol te deel. Om eerlik te wees vra nie dat ons onsimpatiek of ongepoets moet wees nie. Ons hoef nie mense met die waarheid te stoomroller nie. Natan leer my dat ’n verhaal partykeer die beste roete is. Of ’n sagte woord. Nee, ons mag nie ons verantwoordelikheid ontduik om mense te begelei om op God se pad te leef nie, maar ons kort die nodige wysheid sodat dit die regte effek kan hê. Leer by Natan.

bottom of page