Van selfopbou na mekaar-opbou
top of page

Van selfopbou na mekaar-opbou



Daar’s niks mee verkeerd dat ek omsien na my eie geloofsopbou nie. Ek moet dit juis doen. Hier op die vlak van persoonlike geloofsopbou hoort die spreek-in-tale-gawe volgens Paulus tuis. Maar die fokus van die gawes van die Gees is nie ten eerste my eie geloofsopbou nie. Gawes gaan oor ander; dit gaan oor mekaar opbou. Profesie is daarom so belangrik.


Profesie, dit wil sê, die bekendmaking van God se wil deur prediking, onderrig en vertroosting, is altyd belangrik vir Paulus, omdat dit so nuttig is binne die liggaam van Christus. Nee, wag, dis onontbeerlik. Maar onthou, profete is nie ekstatiese figure, wat die toekoms voorspel, of wat in emosionele uitbarstings onbeheersd begin praat nie. Profete is ook nie werklikheidsvreemde figure, wat in status belangriker as ander Christene is en wat mag oor ander uitoefen, omdat hulle profetiese visioene oor alles en almal kan sien nie. Nee, profete is doodgewone mense wat preek, praat, opbou, bemoedig. Die gawe van profesie gebeur tydens eredienste waar die Woord weerklink, asook by Bybelstudies, persoonlike bemoediging, kategese, selgroepbyeenkomste en op elke plek waar God se wil ter sprake is.


Soos wat Paulus in 1 Tessalonisense 5 skryf, moet profesie altyd getoets word aan God se wil. Dit moet in ooreenstemming met die Bybel wees. Nie eens ‘n engel, wat ‘n ander boodskap as dit bring, moet aanvaar word nie, soos wat Paulus in Galasiërs 1 skryf. Wees dus versigtig. Toets profesie sonder om ‘n onbillike kritikus te wees.


Gebed:

Help my, Here Jesus, om God se wil duidelik te onderskei te midde van alle onwaarhede. Amen.

bottom of page