God se pad met jou het begin toe jou naam op die gastelys geplaas is
top of page

God se pad met jou het begin toe jou naam op die gastelys geplaas is


In Stephan Joubert se nuutste Goeie Nuus, skryf hy oor God se pad met jou het begin toe jou naam op die gastelys geplaas is
God se pad met jou het begin toe jou naam op die gastelys geplaas is

Geen pad gaan maar net iewers heen nie. Alle paaie kom ook van êrens af. Op ’n bepaalde punt sluit jy altyd aan by ’n bestaande pad. Jou eie geloofspad kom ook van iewers af. Dit het nie eers begin toe jy ’n Christen geword het nie. Nee, dit het al begin toe jou naam op God se gastelys geplaas is. Nog lank voor jyself dit geweet het, was jy reeds ’n genooide na die hemelse feesmaal.


God het lank gelede besluit dat Hy van jou hou, selfs al het jy toe nie dieselfde oor Hom gevoel nie. Hy wou nie dat jy in die sonde rondlê daar op jou eie doodloopstraat nie. Daarom het Hy ’n hemelse spoorsnyer op jou hakke geplaas. Hy het vir die Heilige Gees jou naam en adres gegee. Vir Hom kan jy nooit wegkruip of weghardloop nie. Daar’s geen plek so donker dat Hy jou nie ook daar kan raaksien nie; geen sonde so groot dat Hy jou nie daarvan kan verlos nie. Op ’n dag het Hy jou toe ingehaal. Daardie einste dag het Jesus jou op sy eie skouers getel en jou teruggedra na God se feessaal toe. Nee, die Goeie Herder het jou nie met ’n stok teruggedryf of met jou geraas, omdat jy in die sonde weggeraak het nie. Nee, Hy het jou in sy genadige arms opgetel.


God ken jou regtig van lankal af. Sy pad met jou strek baie verder as jou pad saam met Hom. Toe jy nog ’n sondaar was, het Hy jou in genade raakgesien. Só vertel Paulus in Romeine 5. Hy hou jou nou in sy eie handpalm. So sê Jesus in Johannes 10:29 - 30. O ja, hierdie pad het ook ’n goeie eindbestemming. Dit is Sy ewige stad. Wat ’n pad om op te reis! Wat ’n genadige Here, wat saam met jou op pad is!

bottom of page