God se nabyheid is eindeloos belangrik
top of page

God se nabyheid is eindeloos belangrik


In Psalm 73 praat die musiekleier Asaf van ‘n welbekende observasie wat moontlik van tyd tot tyd in die lewe van elke gelowige kop uitsteek. Dis dat dit soms lyk of die goddelose, die onregverdige, altyd voorspoed beleef. Asof dit beter gaan met ongelowige mense as met mense wie altyd reg loop voor God.


Ek het al baie gewonder en gevra hoe is dit dan dat mense wie nié God ken nie, wie nooit reg doen nie, wie korrup is, wie ander verneder en geen vrees het vir God nie, hoe is dit dat hulle so “gelukkig” lyk, sulke voorspoed in werk, finansies, materiële rykdom beleef.

Maar dit lyk vir my ek sit in sulke tye met dieselfde probleem wat Asaf gesit het. Asaf meet homself- as regverdige- teen mense wie nie dieselfde waarheid in hul harte dra as hy nie. Asaf skuif sy perspektief van God af na feilbare mense wie ook maar, nes hy, kortsigtig is in hul verstaan van wat eindeloos belangrik is. Hy sê: “Ek het amper ophou glo, want toe ek rondom my kyk, het ek gesien hoe goed dit met slegte mense gaan. Hulle is so hoogmoedig. En hulle word by die dag al hoe ryker. En ek was jaloers” (Ps. 73:2-3 DB). Dit het hom so ontsteld dat hy selfs gedink het dit was ‘n mors van tyd om getrou aan God te bly.


In hierdie ongekende tye kan ons ook maklik voel wat was die punt van glo en vertrou, en gee, en help, die regte ding doen, die ander wang draai, dien, en selfloos lewe. Daarom is Paulus se woorde aan die gelowiges in sy Galasiërs-brief nou nóg meer van toepassing op ons wanneer hy sê: “Laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel” (Gal. 6:9).


Asaf kom later tot die slotsom- na hy die voorspoed van die goddeloses vanuit God se perspektief bekyk het- dat God alleen, Sy konstante teenwoordigheid, Sy nabyheid eintlik meer as genoeg was vir hom die heeltyd. Hy sê: “Daar is niks in die hemel of op die aarde wat vir my meer beteken as U nie. Al is ek afgetakel na liggaam en gees, God is my sterkte; aan Hom behoort ek vir altyd” (Ps. 73:25-26).


Asaf het sy fokus weer ingestel. Hy besef wat vir hom eindeloos belangrik is. Dis om in God se nabyheid te lewe- maak nie saak hoe mense om hom voorspoed beleef, of hoe ongekend die tye is nie. Ek is daarvan oortuig dat ek en jy hierdie onbekende toekoms kan instap met ‘n ingestelde fokus op die nabyheid van God in ons lewens. Dis wat eindeloos belangrik vir ons gaan wees.

bottom of page