God programmeer my lewe nie vooruit met vervaldag en al nie
top of page

God programmeer my lewe nie vooruit met vervaldag en al nie


In sy nuutste Goeie Nuus, skryf Stephan Joubert oor God wat nie my lewe vooruit programmeer met vervaldag en al nie.
God programmeer my lewe nie vooruit met vervaldag en al nie
“My tyd is in U hand.”

So sê die psalmskrywer in Psalm 139. Dit beteken nie ek is soos ’n robot vooruit geprogrammeer met ‘n vervaldag en al nie. Ek loop nie rond met ’n stempel iewers op my, wat lees:

“Vervaldag op dag X van die jaar 20YZ”

nie. Of:

“GEBRUIK VOOR DAG X”

nie. Baie mense dink egter so. Hulle meen God het alles vooruit geprogrammeer; hulle sondes en droogmakery inkluis. Dit is fatalisties, want dit verander God tot die Outeur van alles wat sleg is. Dan is jou en my lewe ’n voorafvervaardigde produk, wat lank gelede op ’n hemelse vervoerband beplan en finaal uitgerol is. Dan het jy en ek net ’n sekere rakleeftyd, waaraan niemand enigiets kan doen nie. Dan help dit nie eens dat ons bid nie.


Daardie idees dat alles met ’n rede gebeur en dat alles vooruit bepaal is, kom uit die Griekse mitologie. Zeus en sy drie helpergodinne, bekend as die Moirae, het presies so opgetree. Hulle het mense se lewens uitgemeet en afgesny, wanneer elkeen se vervaldag aangebreek het. Die lewende God van die Bybel is nie so ’n despoot of ’n fatalistiese programmeerder nie. Hy is die God van liefde. Sy liefde veronderstel lewende verhoudings. Daarom kan ek kies om Hom te dien. Of nie. Daarom moet ek reg kies. Dan eers kan ek bely dat my tye in Sy hand is. Dan eers is my lewe nie ‘n sinnelose getjommel nie. Selfs al sterf ek dan ’n onnatuurlike dood, soos wat met Stefanus gebeur, toe hy vermoor is daar in Handelinge 7, weet ek dat ekself lewe en sterf vir die Here. Dan weet ek saam met Paulus in Romeine 8:37 - 39 dat niks my kan skei van die liefde van die Here, wat daar in Christus is nie.

bottom of page