God is ’n goeie Vader
top of page

God is ’n goeie Vader


Wanneer ’n bekende TV-persoonlikheid, soos Piers Morgan, begin lag vir sommige kerklike manewales, dan moet jy weet daar’s ’n paar skroewe los. Op ’n TV-insetsel, wat ek nou die dag gesien het, spreek hy openlik kritiek uit teen ‘n oorsese kerklike denominasie, wat die “Onse Vader” gebed blykbaar wou verander na “Ons Ouer”, omdat sekere indiwidue nie gemaklik is met die aanspreekvorm “vader” nie. Mense met slegte vaderherinneringe uit hulle verlede en sommiges met ander agendas, hou blykbaar nie meer van die NuweTestamentiese aanspreekvorm vir God nie.


Die Bybel maak dit duidelik dat God nie deel is van die Griekse en Romeinse godsdienste met al hulle manlike en vroulike gode nie. Daarom gebruik die Bybel nooit die term “Vader” as een of ander geslagtelike verwysing nie. God troon uit bokant sulke menslike eienskappe en voorstellings. Vader is Sy Nuwe Testamentiese naam. Dit is wie Hy is. Meer as 120 keer kom die naam “Vader” in die Johannes-evangelie voor. So openbaar Jesus Hom aan ons. In die Ou Testament word God in Hebreeus as Jahwe, Ēl of Elohīm aangespreek, maar in die Nuwe Testament word Hy meermale Pater of Vader genoem. Jesus leer ons in dieselfde asem dat God ons Hemelse Vader is, wat liefdevol en ontfermend teenoor al sy kinders is. Hy is ’n goeie Vader, wat sorg vir ons daaglikse en ewige brood. Hy tel die hare op ons koppe. Hy dra ons in die palm van Sy hand. Hy gee vir ons ewige lewe. Ons is Sy kinders, wat Hy baie lief het. Daarom is Sy naam nie net op ons lippe nie, maar daarom eer ons Sy Naam met ons ganse lewe.


Ons weet dit is een ding om God se naam te ken, maar dit is iets anders om Sy Naam reg te gebruik. Ons gebruik die Here se Naam slegs en alleenlik met eerbied. Ons loof Sy Naam. Ons eer Sy Naam. Ons dien die Here. Al is God se naam dalk elders gekloon, omdat mense dit deesdae om elke hoek en draai misbruik, doen ons dit nooit nie. Ons weet die Here is groot en heilig. In Christus is Hy ons Vader en ons Heer voor wie ons buig. Ons hou Sy naam altyd hoog.

bottom of page