Ons onkunde oor God is dalk ons blinde kol
top of page

Ons onkunde oor God is dalk ons blinde kol


Wanneer die woord “sonde” opduik, dink mense gewoonlik aan morele oortredings. Immoraliteit, diefstal, dronkenskap en sulke dinge is dadelik in die visier, wanneer sonde ter sprake is. Inderdaad spreek die Bybel ook sulke morele vergrype aan, maar die boek Job bied ’n ander perspektief op die vraag in verband metsonde. Na Job se lang woordstryde met sy drie vriende Elifas, Bildad en Sofar en selfs met God, is sy uiteindelike belydenis in hoofstuk 42 nie ’n erkenning van sy morele sondes nie, maar een van sy eie onkunde oor God. Hoor weer: Job bely aan die einde dat hy God nie goed genoeg geken het nie. Hy bely nie dat hy skuldig is aan al daardie morele sondes, waarvan sy drie vriende hom beskuldig het nie.


Job se moeilikhede het begin, toe hy letterlik alles in die lewe verloor het. Sy vriende het dadelik besluit hy het gesondig en dat God hom nou straf. Job het hierdie aanklag verwerp. Tot in hoofstuk 31 het Job volgehou dat hy geen morele sondes gepleeg het nie. Hy het regverdig voor God en tussen mense geleef. Uiteindelik antwoord God self vir Job in hoofstuk 38 - 41. God se antwoord is ’n uitgebreide besoek aan Sy skepping saam met Job. Hierdie ontdekkingstog in die teenwoordigheid van die Almagtige maak Job bewus van een groot feit: hyself het God verkeerd verstaan (Job 39: 36 - 38; 42: 1 - 6). Hy wat Job is, is onkundig oor wie God regtig is, maar nou beleef hy God se almag en goedheid eerstehands. Nou weet Job hyself is klein en nietig voor God. Daarom val hy in die stof voor God neer en erken dat hy van nou af gaan stilbly. Sy ontdekking van God se grootheid is net te oorweldigend. Hierdie belydenis van sy onkunde lei tot ’n nuwe belewenis van God se grootheid en goedheid in Job se lewe.


Ons moet opnuut besef dat ons grootste probleem dalk ook dié van Job is. Ons eintlike tekort is dat ons God nie reg verstaan nie. Dalk is dit ook ‘n blinde kol. Dalk is dit daardie een oortreding in ons lewe, wat ons met oop oë miskyk, net soos wat Job vir jare lank gedoen het. Kom ons bely ons onkunde saam met Job. Kom ons maak dringend werk daarvan om God beter te leer ken. Kom ons val weer in verwondering voor Hom neer.

bottom of page