Glo en ontvang
top of page

Glo en ontvang



Leex Handelinge 2:38

Nee, hierdie vers is nie ‘n volgorde van gebeure soos wat party mense dit graag wil verstaan nie. Ons kan nie die Gees se werk vasvang in ons skemas nie. Onthou, Hy is soos wind, Hy waai waar en soos en hoe Hy wil. Niks of niemand kan die Gees vasvang nie. Wat Petrus wel hier aan die groot skare sê wat wil weet hoe hulle gered moet word, is dat hulle hul bestaande leefwyse moet laat staan en God in die oë kyk. Mens noem dit bekering! Hulle sondes en foute sal weggewas word deur hulle geloof, waarvan die doop die uiterlike teken is.

Saam met geloof in Jesus gaan die Gees as hemelse geskenk. Hy word aan alle mense gegee wat hulle bekeer en in Christus as die Here glo. Dit sê Petrus onomwonde. Dit geld altyd en orals. Wat ‘n geskenk! Die Gees is by elkeen wat glo. Nou gaan dit oor glo en ontvang. Nou gaan dit oor buig voor Christus en dadelik vervul word met sy Heilige Gees. Nou oorstroom nuwe lewe elke sondige verlede. Nou vul die Gees elke hoekie van ons lewens wat vroeër donker en vuil was.

As jou lewe tans nie skitter met die Gees se nuwe heerlikheid nie, dan is dit net jou eie skuld. Dan het jy vergeet om die hemelse geskenkpapier rondom sy geskenk vanoggend af te haal.

Gebed

Vergeef my, Gees van Christus, dat ek die hemelse geskenkpapier rondom u gawe nooit behoorlik afgehaal het nie. Amen

bottom of page