Gebede wat God se hart raak
top of page

Gebede wat God se hart raak


Hoe lyk gebede wat God se hart raak? Lees gerus wat Stephan Joubert hieroor skryf in sy nuutste Goeie Nuus nuusbrief
Gebede wat God se hart raak

Gebed is nie speletjies nie. Regtig, dit is nie! Om te bid is om in die teenwoordigheid van Hom te wees wat tyd en ewigheid in Sy hande vashou. Daarom dat Prediker 4:17 - 5:2 ons herinner dat ons gebedswoorde min moet wees. Dit moet goed deurdag wees. Jesus sê in dieselfde trant in Matteus 6 dat ons God nooit met ‘n massa woorde moet probeer beïndruk nie. Dit help nie. Hy is ons Vader. Hy weet by voorbaat wat ons nodig het. Nogtans storm ons nooit nonchalant of onvoorbereid by die Here se troonsaal in nie. Nee, dit beteken nie ons gebede is ingeoefende resitasies, wat so vervelig geraak het dat ons onsself gedurig aan die slaap bid nie. Of vormgebede wat gebed vir gebed presies dieselfde klink nie.

Ons bid altyd uit die hart, maar ons dink elke keer goed na oor wat ons vir die Here sê. Ons weeg ons gebedswoorde keer op keer. Ons belyn elke gebed met God se wil. Ons is nederig wanneer ons bid. In Jakobus 4 se woorde onderwerp ons onsself gedurig in nederigheid voor God. In sy teenwoordigheid weet ons minder is meer. Minder woorde, maar meer nederigheid en groter afwagting… Dit is sulke gebede, wat God se oor bereik. Dit is sulke gebede, wat sy hart raak. Dit is sulke gebede, wat God verheerlik en wat ons lewens verander.

bottom of page