• Stephan Joubert

Om Christus se hande en voete te wees


Hoe lyk dit as ons Jesus se hande en voete is?
Om Christus se hande en voete te wees

“The church has amputated its hands and feet and all that’s left, is its mouth,” sê Rick Warren. Dit het ek een keer beleef, toe iemand my vertel het van hulle gemeente se noodprojekte. Hulle gee daagliks etes vir massas mense uit hulle karige inkomste. Hulle kan nie eens ’n voltydse leraar bekostig nie, maar saam met ‘n deeltydse geestelike leier ondersteun hulle die armes. Toe kom sien ’n afgevaardiging van hulle denominasie hulle. Dié se aanbeveling was dat die gemeente alle noodprojekte moet staak. Dan kan hulle ’n voltydse leraar met die ekstra geld beroep. “Wat word dan van die hongeriges?” wou hulle weet. Al raad was egter dat die gemeente se hande en voete afgesit moet word om vir hulle ’n amptelike mond te gee.


Jesus doen dit andersom. Hy wat skatryk was, het om ons onthalwe arm geword. Hy het alles prysgegee (2 Korintiërs 8:9). Daarom offer ons ook onsself vir Hom op. Ons gee. Ons deel. Ons dien. Ons help mense met ons geld, ons kennis, ons tyd, ons daarwees. Ons stap nooit weg van ons roeping om vrygewig te wees nie. Ons het meer as ’n mond. Ons het voete, wat graag loop in die rigting van ander mense. Ons het oop hande vir ander. Ons lewens vertel dat ons lede is van die Heer se diensspan.