Gebed is nie ’n geestelike Google-soektog nie
top of page

Gebed is nie ’n geestelike Google-soektog nie


Wanneer mense na informasie oor enigiets of enigiemand soek, Google hulle dit sommer. Derduisende treffe volg dan binne millisekondes. Wel, gebed is nie die hemelse teenvoeter vir Google, waar ons teen rekordspoed antwoorde moet kry op al ons vrae nie. Ons storm nie by die hemelse troonsaal in met die doel om elke keer daar weg te loop met ’n gebedverhoring binne ’n nuwe rekordtyd nie. Nog minder is gebed 'n geestelike telbord, waar ons telling hou van al ons antwoorde. Of ‘n eenstop hemelse verbruikersdiens. Ons bid nie bloot net om te ontvang nie - ons bid heel eerste om God te verheerlik. Hy is ons hemelse Vader. Ons kom keer op keer nederig tot rus aan Sy voete.


Ja, ons mag dinge van God vra, maar ons doen dit reg. Ons bid heel eerste om Sy naam te eer. Ons bid om Sy wil te laat gebeur. Ons bid om uitdrukking te gee aan ons liefde vir God. Daarom is ons gebede altyd deurdrenk met lof en aanbidding. Deur ons gebede ontdek ons algaande dat God ons genadig is op Sy eie terme en dat die grootste gebedsverhorings juis gebeur, wanneer ons Hom eer en aanbid.

bottom of page