Ek raak gebedsfiks
top of page

Ek raak gebedsfiks


Dit is nie sonder rede dat Jesus se dissipels in Lukas 11 vir Hom gevra het om hulle te leer bid nie. Hulle het besef gebed moet ingeoefen word. Teveel mense dink gebed gebeur elke slag outomaties. Of maklik. Toe nie. Ons moet leer bid. Kleintyd is ekself darem drie gebede geleer. Die eerste was: “Liewe Jesus, ek is ‘n kindjie klein...” Tweedens is ek daardie standaardgebed voor etes geleer: “Seën die hande wat die kos voorberei het.” En derdens, die “Ons Vader”.


“Liewe Jesus, ek is ’n kindjie klein,” het vir die eerste agt jaar van my lewe goed gewerk, maar toe word ek ’n “kindjie groot”. My ma het nie ander gebede in die plek hiervan geken nie, behalwe dalk iets soos: “Bewaar my teen hierdie tiener!” Gebed nommer twee is ook uit diens gestel, toe ek as student my eie kos moes maak. Genadiglik het “Die Ons Vader” tot vandag toe as die gebedspilaar van my lewe oorgebly.


Ek besef al hoe meer dat ek aanhoudend moet leer om reg te bid. Ook moet ek dit lewenslank inoefen. Nooit gradueer ek uit Jesus se skool van gebed nie. Nooit verdien ek enige erekleure in gebed nie. Nooit verander ek in ’n kampioenbidder nie. Ek moet aanhoudend ontdek gebed gaan heel eerste oor God. Dit gaan oor Sy eer, Sy wil, Sy koninkryk. Tweedens moet ek oor en oor leer gebed gaan oor ander mense. My eie behoeftes en versoeke kry altyd die laaste plek in die ry wanneer ek bid, altyd! Ek bid myself gedurig uit alle belangrikheid uit. God word meer en ekself word minder in my gebede. Ek leer ook dat gebed nie losstaan van die res van my lewe nie. As ek in Christus bly, dan word die woorde van Psalm 23:1 al hoe meer waar: “Die Here is my Herder. Ek kom niks kort nie.” Dan krimp my eie behoeftes. Dan het ek al hoe minder dinge nodig.Dan is die Here genoeg.

bottom of page