ESKOM bring nie die lig nie
top of page

ESKOM bring nie die lig nie


Suid-Afrika is vanaf Januarie 2022 tot en met die begin van Oktober reeds met 1 949 ure beurtkrag, wat oor 81 dae gestrek het, lamgelê. Dit is skrikwekkend en mense is nie net kwaad nie, maar ook doodsbenoud – die voorspelling vir 2023 lyk selfs erger en permanente donkerte lyk nou nie meer so onwaarskynlik nie.


Ek wil nie maar net nóg ’n doemprofetiese of die-eindtyd-is-naby-stuk oor Eskom en al ons land en die wêreld se ontelbare probleme skryf nie. Ja, die eindtyd is naby en ek roep saam met jou en die res van die skepping uit: “Marana ta – kom, Here!” Dit is ook so dat, as Christene doen wat hulle moet doen, die spesifieke tyd van die wederkoms nie sal saak maak nie en meer en meer bekeerdes die wederkoms in lig en nie in duisternis nie, sal tegemoetloop.


Dit is waarby ek wil uitkom: Die lig, wat ons in die wêreld moet wees, en beurtkrag verskaf die perfekte vergelyking:


Is mý lig sterker as Éskom s’n, of is my Christenwees ook maar onderhewig aan beurtkrag? Een dag aan en een dag af, hierdie jaar soveel ure en volgende jaar eksponensieel meer? Menige Christen kies om beurtkrag in hulle lewens toe te pas en dit veroorsaak chaos in die wêreld, nog veel erger as die wanorde wat Eskom se aan en af bring.


Dit beteken dat ek nie alleen in die donker sit nie, maar ook die mense rondom my in duisternis dompel, net soos wat beurtkrag álmal raak. Dit beteken dat sekere essensiële komponente van my lewe, net soos elektroniese apparate, oppak en later teen ’n hoë koste vervang moet word. Dit beteken dat die prys, wat ek moet betaal, soveel hoër raak, net soos wat dié met kragopwekkers astronomiese bedrae aan brandstof spandeer en voedselpryse styg. Dit beteken dat ek wegraak in die duisternis van die wêreld, waarin ons elke dag lewe, eerder as om Christus se lig en orde in die donkerte te bring. Dit beteken dat my lewe, wat eintlik so kortstondig en broos is, enige tyd deur totale duisternis (“total blackout”) kortgeknip kan word.


Die Heilige Gees speel die rol van EskomSePush in ons lewens en al wat ons moet doen, is om die toep af te laai en gehoor te gee aan die waarskuwings. Die Lig staan tog by die deur, waaragter iemand in duisternis sit, en klop, gretig om in te kom en die donkerte te verdryf met die helder lig wat Christus aangesteek het. Jesus se opdrag, wat eintlik ook ’n wonderlike gerusstelling is, is ook baie duidelik:


“Julle is die lig vir die wêreld. ’n Stad wat op ’n berg lê, kan nie weggesteek word nie; ook steek ’n mense nie ’n lamp op en sit dit onder ’n emmer nie maar op ’n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. Laat julle lig voor die mense skyn dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”


Ek hoop dat jy in tye van beurtkrag saam met my aan hierdie vergelyking sal dink en, nieteenstaande al die probleme in hierdie wêreld, sal uitgaan en ’n helder lig in die duisternis bring. Dít is immers die lig wat ewigheidswaarde het!

bottom of page