Die einde is nie die einde van die wêreld nie!
top of page

Die einde is nie die einde van die wêreld nie!


Soms word ons angsvlakke bepaal deur ons swak teologie of ongesonde klemme op sekere Bybels-teologiese sake. Ek slaan veral in koue koors uit, wanneer sekere mense oor die eindtye begin praat. Ek voel soms so ‘n bietjie soos Billie Eilish wat sing:


Breathe the air again

It’s a beautiful day

I wish this moment would stay with the Earth

A primal paradise


But there you go again

Saying everything ends


So sing Billie Eilish van die doemprofete, wat nou alweer aan die praat is. Elke keer wanneer ons bewus raak van ‘n nuwe krisis in Oekraïne, of ‘n politieke skuif in Sjina, of ‘n petrolprys wat styg, dan begin mense opnuut teem oor die einde van die wêreld. Dan word Johannes se Openbaring opnuut uit konteks gepluk, die Merk van die Dier kry nuwe profete, die tekens van die tye word verwoed bespreek, want die einde is om die draai. Dis vir my kenmerkend dat hierdie sogenaamd geestelike uitsprake nooit die kalm vertroostende uitwerking het, wat die evangelie by gelowiges behoort te bring nie. Vandaar my koue koors.


Dit lyk asof die rede is dat sommige van ons se teologie ons altyd laat dink dat dinge in óns tyd die ergste is. In óns tyd is die korrupsie, die immoraliteit, die politieke misleiding en gebrek aan liefde, die ergste. Daarom is die einde én die Fillistyne óp ons!

Hoor hoe praat die kerkleier, William Miller:


Desolating earthquakes, sweeping fires, distressing poverty, political corruption, private bankruptcy, widespread immorality in these days is an obvious indication that the Lord’s coming is upon us.

Hierdie woorde het hy reeds geuiter in 1843! Sy wêreld was aan die brand - so het hy gevoel. Hy was egter nie die eerste nie en ook nie die laaste nie.


  • Tussen 140-160 na Christus het ‘n groep, genaamd die Montaniste, ook gedink dat Jesus spoedig gaan kom as gevolg die geweldige vervolging, wat die Christene beleef het.

  • In 1524 profeteer ‘n gerespekteerde Duitser, Johannes Stöffler, dat die einde in daardie einste jaar deur middel van ‘n vloed sou aanbreek. Mense het selfs weer arke gebou, soos in die dae van Noag!

  • Omdat 666 die Merk van die Dier was, het mense in London geglo dat die Here in die jaar 1666 sou kom, veral na die groot brand in London, wat drie dae lank geduur het en 13 000 huise vernietig het.

  • Joana Southcott het die groot oesmislukkings en hongersnood van 1799 en 1800 voorspel. Toe dieselfde vrou begin beweer dat Jesus kort na 1813 gaan kom, het almal in Leeds, Engeland haar geglo en die hemele angstig dopgehou.

  • In 1806 het mense geglo die einde was naby, nadat ‘n hen haar eiers op ‘n sekere manier begin lê het!

  • In 1910 is die einde weer geantisipeer op grond van die verskyning van Halley se komeet.

  • Die Taiwanese geestelike leier Hon-Ming Chen het dié fout in 1988 herhaal deur te sê dat as gevolg van die geweldige oorloë en politieke korrupsie van sy tyd, die einde om die draai was.

  • Toe was dit die Maja-kalender van 2012.

Nog steeds hou ons nie op nie!


Jesus se punt in Markus 13 is juis dat ons reeds in die eindtyd leef vanaf Jesus se eerste koms (sien ook Hebreërs 1:2). Wanneer ons dus die tekens van die tye, soos aardbewings, oorloë en misleiding sien, moet ons herinner word dat ons nié wéét wanneer die einde is nie. Terwyl ons onsself dus gereed moet hou vir Sy koms, moet ons juis geen voorspellings waag nie.


Intussen? Intussen vergeet ons van die einde en laat ons dit in Jesus se hande. Intussen soek ons die mooi van die lewe en werk saam met God om mense se nood te verlig. Kom ons los die gemeenskap met die doemprofete en soek die gemeenskap op van die Alfa en die Omega, wat die geskiedenis, die begin en die einde in Sy hand het.


Ek dink onwillekeurig aan wat Tony Campolo geantwoord het, toe geestelike weervoorspellers vir hom oor die eindtye en Jesus se wederkoms gevra het:


I don’t know. I’m on the welcoming committee, not the planning committee!
bottom of page