‘n Skild van geloof en ‘n Coke blikkie
top of page

‘n Skild van geloof en ‘n Coke blikkie


My “skild van geloof” (Efesiërs 6:16) het onlangs dringend onderhoud nodig gehad. Moedeloos gesukkel met dringende dokumentasie, wat ek nie uitgesorteer kon kry nie, het ek my kamerdeur toegetrek en voor die Here stil geword. Wat ‘n heerlikheid om opnuut deur Sy Woord en die influistering van die Heilige Gees reggehelp te word!


In my geval dra hierdie skild van geloof die “kenteken” van ‘n arend met sterk vlerke (Jesaja 40:31). Die skild beteken egter nie veel as dit ewe spoggerig met goud oorgetrek, versier met edelstene van oorwinnings van die verlede, teen die muur hang of in ‘n vertoonkas uitgestal is nie.


Daar sit ek toe aan my Vader se voete met my “skild van geloof” vol duike, werklik battle-scarred en wat dringend onderhoud benodig het. Dis toe dat ek opnuut leer dat, wanneer ek konsentreer op probleme, ek besorg en angstig gaan raak. Wanneer ek konsentreer op God en Sy goedheid, gaan ek vrede hê. Die basis van my ongelukkigheid was angstigheid en kommer, albei vernietigende emosies – ‘n bewys van gebrek aan geloof in God en Sy liefde.


In die Eenjaarbybel se gedeelte vir die dag, is die boodskap hard en duidelik:


1. Psalm 37:34 AMP: Wait for and expect the LORD and keep his way and He will exalt you to inherit the land…

39b He is my refuge and stronghold in the time of trouble.


2. 2 Korintiërs 1:22 vertel van die waarborg vir my “skild”:

… en die Gees in ons harte gevestig as deposito, wat as waarborg dien van alles wat Hy nog vir ons gaan gee. NLV


Gelukkig het ek reeds vantevore ‘n paar aantekeninkies in die kantlyn van my Bybel gemaak, wat my herinner aan Johannes 7:38 (Strome van lewende water: die Heilige Gees)

en Psalm 46:5 NLV

Die strome van die rivier* bring vreugde** in die Godstad, die heilige woning*** van die Allerhoogste.


Ek kon dit op myself van toepassing maak:

* strome van lewende water – die Heilige Gees (Johannes 7:38) ** vrug van die Heilige Gees (Galasiërs 5:22-23; 2 Timoteus 1:7)

** tempel: gemeenskap van gelowiges / individuele gelowige (1 Korintiërs 6:19)


Net daar onthou ek die “gelykenis” van die twee Coke blikkies!

‘n Mens kan taamlik maklik die leë blikkie platdruk: dit word oorweldig deur die druk van buite. Die vol blikkie, daarenteen, kan nie platgedruk word nie – die druk van binne is groter as die druk van buite. Net so is ek baie meer weerbaar teen die druk van omstandighede, wanneer ek KIES om die Gees van God toe te laat om my te vul (deur die beheer aan Hom oor te gee). Dan gaan ek nie mismoedig en ontsteld raak nie, want ek maak staat op die Gees van God, wat my Helper is. En siedaar, my skild van geloof is weer gereed vir die stryd!

bottom of page