Ons het mekaar nodig
top of page

Ons het mekaar nodig


“Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets. As die een val, kan die ander hom ophelp. Maar as een val, wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie. As twee langs mekaar slaap, word hulle warm, maar hoe sal een wat alleen is, warm word? – Prediker 4:9 -11(1983 Vert.)

Die laaste oorblywende lid van 'n afgesonderde inheemse stam in Brasilië is op 23 Augustus vanjaar dood aangetref, in 'n hangmat buite sy strooihut, sy liggaam versier met Macau-papegaaivere. Hy is aan natuurlike oorsake dood. Hierdie man het in totale isolasie vir die laaste 26 jaar van sy lewe geleef, bang vir enige buitestaanders. Hy het selfs pyle afgeskiet na enigiemand, wat naby hom wou kom. Die meerderheid van sy stam is reeds in die 1970's deur boere vermoor, wat hul grond wou uitbrei. Vir die laaste jare van sy lewe was hy heeltemal sonder geselskap. Hy het gesterf soos hy geleef het, alleen, sonder dat iemand sy naam weet of watter taal hy gepraat het.


Ek was hartseer, toe ek hierdie artikel lees, want ek weet hoeveel die mense in my lewe vir my beteken. Die gedagte dat ek die lewe moet aanpak sonder enigeen van hulle en in isolasie leef, was moeilik om myself in te dink.


God se woord sê vir ons dat ons eenvoudig nie sonder mekaar kan funksioneer nie (1 Korintiërs 12). Hy plaas spesifieke mense in ons lewe, omdat Hy weet dat ons mekaar nodig sal hê. Nodig vir aanmoediging, om hulp en ondersteuning op alle moontlike maniere te ontvang en te gee: fisies, emosioneel en geestelik. Ons word aangemoedig om mekaar se laste te dra (Galasiërs 6:2), mekaar te help om geestelik te groei, mekaar aan te moedig tot goeie werke, prakties in mekaar se behoeftes te voorsien (Romeine 12:13). Om mekaar te vergewe, vir mekaar te bid, geduldig te wees, om mekaar te dien.


God het ons sosiale wesens gemaak (Gen 1:28) en 'n behoefte aan verhoudings in elkeen van ons geplaas, eerstens met Homself en dan met mekaar. Sy volmaakte selfopofferend liefde is die basis van alle verhoudinge. Ek kan in hierdie groepe mense en uitgebreide netwerke, waarin God my geplaas het, Sy liefde gaan uitleef, ‘n arm om dié sit, wat swaarkry, dié, wat geval het, ophelp, met deernis en respek dié, wat kwesbaar is, beskerm. Ek kan dié mense, wat alleen is, soos die Amazon man, en wat alleen deur die lewe gaan, betrek by die geestelike familie, waarin Hy ons geplaas het.


It is because we are created in the image of the Trinity that loneliness is so crushing, that broken relationships are so debilitating, that death is so painful. Lack or loss of relationships violates our essential nature, created to reflect the relational essence of God.” – Darrell Johnson (Experiencing the Trinity)
bottom of page